Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dít is wat jou bank van jou weet
Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB.

Jou bank weet waarskynlik baie meer van jou as wat jy graag sou wou gehad het.

Waar jy werk, waar jy woon, waar en wanneer jy inkopies doen en selfs waar jy gereëld jou motor vol brandstof maak.

“Ons kan, met behulp van tegnologie, ’n baie akkurate prentjie van elkeen van ons kliënte skep,” sê Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB.

“Wat baie belangrik is, is om hierdie inligting op ’n professionele manier te gebruik. Ons moet beslis nie creepy raak daarmee nie,” sê hy.

Hy het Woensdag die media in Sandton, Johannesburg, ingelig oor nuwe innovasies wat die bank bekendgestel het, of wat hy beplan om bekend te stel.

Baie hiervan is juis gegrond op hul kliënte se gedrag soos wat deur tegnologie gevolg word.

Celliers sê hy en ander bankbase is maar net té bewus daarvan dat mense baie skepties is oor hoeveel inligting banke van hulle het.

Soveel as wat hulle daaroor kla, sê hy, kan hulle binne ’n oogwink daarop aandring dat dit tot hul voordeel gebruik moet word.

Hy verduidelik dat as ’n bank met behulp van tegnologie ’n redelik goeie prentjie van die kliënt se gedrag het, kan dit baie help om in die geval van bedrog op ’n rekening te bewys dat dit nie die kliënt was nie.

Die bank kan ook, gegrond op ’n persoon se normale gedragspatrone, ’n waarskuwing aan ’n kliënt stuur wanneer daar skielik ’n transaksie is wat glad nie in die patroon pas nie.

As ’n kliënt meer uitgawes as gewoonlik aangaan, kan die stelsel die kliënt ook waarsku dat hy of sy waarskynlik nie teen die einde van die maand geld in hul rekening gaan hê nie, en dalk net weer na hul geldsake moet kyk.

Tegnologie word dus ’n persoonlike bankbestuurder.

Tegnologie kan volgens hom veral ook klein sakepersone help.

“Mense moet tegnologie wat banke gebruik eerder as die bankbestuurder van ouds sien.

“Dink net, die bankbestuurder van die dorp het almal geken. As hy geweet het een boer oorweeg dit om ’n stuk grond te verkoop het hy waarskynlik ’n ander een geken wat weer sy plaas wou uitbrei. Hy kon die twee met mekaar skakel.

“Deur tegnologie te gebruik kan hierdie interaksie tussen ondernemings, of selfs net tussen mense en produkte, nou veel verder uitgebrei word,” verduidelik hy.

Mense moet tegnologie wat banke gebruik eerder as die bankbestuurder van ouds sien.
Jacques Celliers

Op die vraag oor óf van die nuwe produkte – soos dat kliënte nou ’n bankrekening net met die neem van ’n selfie op hul slimfoon by FNB kan oopmaak – nie mense aan meer bedrog sal blootstel nie, is Celliers en sy span se antwoord nee.

Raj Makanjee, uitvoerende hoof van kleinhandelbankdienste by FNB, verduidelik dat menslike interaksie, waar daar juis die geleentheid is om bedrog te pleeg, nou uit die weg geruim word.

“Daar is nou nie meer hope papiere wat vervals kan word of in verkeerde hande by óf die bank óf binnelandse sake kan val nie.

“Wanneer ’n persoon se identiteit bevestig word, is daar 126 punte op die gesig wat gebruik word om te verseker die persoon op die foto’s stem ooreen,” verduidelik hy.

’n Kliënt moet steeds sy of haar ID-nommer verskaf wanneer die rekening oopgemaak word.

Celliers spot en sê waar dit creepy kan raak, is as die bank byvoorbeeld nou skielik ’n diens op sy platform aanbied waarop sy kliënte gegrond op hul gedrag ’n lewensmaat kan soek.

“Ons kan glad nie inligting hiervoor gebruik nie.

“Dit is geweldig belangrik dat ons ons kliënte se vertroue behou. Ons werk baie hard daaraan om dit te doen.”

Meer oor:  Fnb  |  Jacques Celliers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.