PSG-aandeelhouers weet nou finaal hoeveel Capitec-aandele en kontant hulle uit die ontknoping van PSG se belang in die bank gaan ontvang.
PSG keer 28,11% van sy belang in Capitec, meer as 32,5 miljoen aandele, aan sy aandeelhouers uit. Elke aandeelhouer ontvang 14 Capitec-aandele vir elke 100 PSG-aandele.

Jannie Mouton, stigter an PSG en medestigter van Capitec.
Mense wat ’n breukdeel van 14 aandele moet kry, sal die afwaarts afgeronde heelgetal kry, sowel as kontant vir die breukdeel wat aan hulle verskuldig is. Die breukdeel word bereken op die bedrag van nagenoeg R855,58. Dit is deur die geweegde gemiddelde waarde van Capitec se aandeelprys op 26 Augustus (nagenoeg R950,65) minus 10% verkry.
Suid-Afrikaanse aandeelhouers sal aanspreeklik wees vir kapitaalwinsbelasting op die kontant. Die geld en aandele word op 28 Augustus uitbetaal.
PSG het die ontknoping reeds in Mei aangekondig. Twee beweegredes is aangegee: Eerstens dat dit die administratiewe en regulatoriese nakomingslas gaan verlig en tweedens dat dit die diskonto waarteen sy aandele verhandel teenoor sy onderliggende bates se waarde verminder sal word en só waarde vir aandeelhouers ontsluit.
PSG behou 4,3% van sy belang in Capitec.
PSG, wat ook belange in Curro, Zeder en PSG Konsult besit, was in 2001 by die oprigting van Capitec betrokke. Jannie Mouton, stigter van PSG, was ook een van Capitec se stigters.