Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dít trek Tongaat Hulett onder

Die suikerreus Tongaat Hulett se boekhouskandaal het waarskynlik baie met sy eiendomsontwikkeling te doen, sê kenners in die bedryf.

Die luukse Zimbali Coastal Resort aan die Noordkus van KwaZulu-Natal is een van Tongaat Hulett se eiendomsontwikkelings.

Tongaat se notering op die JSE en die Londense aandelebeurs is die afgelope week opgeskort – moontlik tot Oktober – terwyl ’n forensiese ondersoek gedoen word.

Tongaat moes ook beleggers inlig dat hulle nie meer kan staat maak op die betroubaarheid van 2018 se finansiële state, die tussentydse state óf hul laaste handelsverklaring nie.

Die suikerprodusent is ook een van die prominentste eiendomsrolspelers in KwaZulu-Natal. Trouens, te midde van reuse-uitdagings in die suikermark weens goedkoop suikerinvoer in Suider-Afrika waar Tongaat Hulett sake bedryf, asook sosiopolitieke uitdagings in Zimbabwe, het sy eiendomsbedrywighede die maatskappy se inkomste beskerm.

In die laaste finansiële resultate was Tongaat Hulett se eiendomsbedrywighede net 5% van sy omset, maar 30% van die bedryfswins. Die groep self sê nou sy vorige inkomstesyfers is moontlik met tussen R3,5 miljard en R4,5 miljard oordryf.

Tongaat se eiendom

Tongaat Hulett het die afgelope 20 jaar met sy vennote beleggings van meer as R70 miljard gefasiliteer deur altesaam 4 000 ha landbougrond wat vir die verbouing van suikerriet gebruik is, om te skakel en te ontwikkel.

Net in die afgelope drie jaar het die groep R1,5 miljard bestee aan infrastruktuur, volgens inligting op Tongaat se webblad.

Van die groep se bekendste ontwikkelings sluit in die luukse Zimbali-oord aan die KwaZulu-Natalse noordkus, Mount Edgecombe Country Club Estate, La Lucia Ridge, die Canelands-nywerheidspark en sakeparke soos River Horse Valley en Millennium Bridge.

Volgens Neil Gopal, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Eiendomseienaars (Sapoa), het Tongaat Hulett “suksesvol grond verpak vir ontwikkeling en in wese markte ontwikkel waar niks was nie”.

In Tongaat Hulett se laaste handelsverklaring in Februarie het hy gesê die groep se wesensverdienste per aandeel vir die jaar tot einde Maart sou na verwagting met 250% daal van ’n positiewe 535c tot ’n verlies van meer as 927c per aandeel.

Teen die agtergrond van ’n swak eiendomsmark het die groep al laat verlede jaar gewaarsku dat sy bedryfswins met 64% sou daal, grootliks weens “grondtransaksies wat nie teen 30 September beklink is nie”.

In Februarie het die groep die mark ingelig dat geen grondverkope sedert einde September 2018 plaasgevind het nie. “ ’n Deeglike hersiening van die grondportefeulje is aan die gang,” is gesê.

Dit lyk of die wyse waarop die ontwikkelingsgrond gewaardeer en grondverkope in die groep se inkomstesyfers gerapporteer is, van die groot kwelpunte is in die forensiese ondersoek wat tans deur PwC uitgevoer word.

Aandeelprys
’n Jaar gelede het Tongaat se aandele teen R80,24 op die JSE verhandel. Maandag met die opskorting was dit ’n skamele R13,21. Dis ’n daling van byna 84%.

Charl Kocks van Ratings Afrika en kenner van korporatiewe bestuur, sê as die mark verswak, moet die waarde van die eiendom op die balansstaat dienooreenkomstig aangepas word. Die aannames waarop die waardasie berus, soos die verwagte verkoopsprys, moet billik en geregverdig wees.

Hy wys daarop dat die soort eiendomstransaksies waarby Tongaat Hulett betrokke is, boonop kompleks is. Die groep doen meestal die makro-ontwikkeling en verkoop dan ontwikkelingspakkette aan ander ontwikkelaars vir residensiële, kommersiële of nywerheidsentrums.

Dit is kritiek wanneer ’n transaksie se opbrengs as inkomste in die state erken word. As sekere bepalende faktore nog onseker is en die transaksie later platval, moet die inkomste teruggeskryf word.

Kocks sê daar kan binne maatskappye baie druk wees op waardeerders en rekenmeesters om af te wyk van suiwer waardasiebeginsels. Dit kan daartoe lei dat die state ’n onrealistiese prentjie van die maatskappy se geldsake skep. Dit is daarom belangrik dat sulke professionele mense binne die maatskappy beskerming moet geniet sodat hulle hul werk kan doen.

Erwin Rode, ’n eiendomskenner, sê die verswakkende Suid-Afrikaanse ekonomie het die mark waarin Tongaat Hulett as ontwikkelaar betrokke is, sleg getref. Dit is belangrik dat ontwikkelaars in sulke omstandighede ook hul verwagting oor die toekomstige verkoopstempo temper, sê hy.

Meer oor:  Sapoa  |  Tongaat Hulett  |  Erwin Rode  |  Suiker  |  Ontwikkeling  |  Eiendom  |  Ontwikkelaars  |  Suikerbedryf  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.