Jy kan dalk nie ’n paar van die ikoniese Doc Martens-stewels bekostig nie, maar eersdaags sal jy ’n aandeel kan koop in die maatskappy wat hulle vervaardig.

Hoewel Dr. Martens deesdae stewels in pienk blinkleer of met blompatrone ook maak, is dié oorspronklike stewel die een wat die meeste mense die een of ander tyd begeer. Foto: Dr. Martens
Bloomberg berig die Britse maatskappy Dr. Martens gaan Maandag met ’n aanvanklike openbare aanbod begin, gemik op ’n Londense notering wat die skoenvervaardiger op tot £4 miljard gaan waardeer.
Die maatskappy word deur die private-ekwiteitsfirma Permira Holdings besit, wat nie self genoteer is nie.
Doc Martens se kenmerkendste stewel, die 1460-model, het byna 61 jaar gelede as ’n stewel vir fabriekswerkers die lig gesien. Die model se naam kom van die eerste datum waarop dit vervaardig is – 1 April 1960. Die skoenmaker sê op sy webwerf in die ses dekades het nie ’n enkele ding aan die stewel se ontwerp verander nie – dit het steeds dieselfde agt ogies en geel stiksel.
In sy 2020-boekjaar het Dr. Martens wêreldwyd £672 miljoen se skoene verkoop. Daar is 130 winkels wêreldwyd.
Plaaslik is daar geen Doc Martens-winkels nie en die handelsnaam verskeep ook nie van sy aanlyn winkel af na Suid-Afrika nie, maar dit kan aanlyn by That Shoe Lady gekoop word. ’n Egte paar Doc Martens sal jou na gelang van die styl tussen R2 999 en R4 999 kos, maar baie van die soorte of groottes is uit voorraad uit.
Die groep se grootste mededinger is goedkoper namaaksels van sy skoene wat al in winkels soos H&M, Cotton On en talle ander verkoop is vir ’n breukdeel van die oorspronklikes se prys.
Permira het in 2014 €380 miljoen vir Dr. Martens betaal en dit tot ’n werklik wêreldwye handelsmark uitgebrei.
Permira besit ’n uiteenlopende klomp beleggings, van firmas wat bemarkings-, advies- en tegnologiedienste lewer tot vervoer- en kosfirmas. Wat skoene betref, besit dit ook ’n belang in die Italiaanse skoenvervaardiger Golden Goose, wat tekkies vervaardig.
Permira was een van die konsortium kopers wat in 2017 die Poolse e-handelonderneming Allegro by Naspers gekoop het.