Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dubai-groep wil Imperial oorneem

Die Dubaise logistiekonderneming DP World gaan Imperial Logistics vir meer as R12,7 miljard oorneem. Indien die transaksie slaag, sal Imperial van die JSE denoteer.

Die Dubaise logistiekgroep DP World wil Imperial Logistics oorneem. DP World het verskeie konsessies by hawens wêreldwyd.

Dit is net nog een van ’n paar groot transaksies die afgelope paar jaar waarin internasionale maatskappye Suid-Afrikaanse ondernemings oorneem. Dit volg op die onlangse nuus dat die bierreus Heineken die Suid-Afrikaanse drankgroep Distell wil oorneem. Ander groot transaksies die afgelope jare was AB Inbev wat SABMiller in 2016 oorgeneem het, en PepsiCo wat die Suid-Afrikaanse kosgroep Pioneer in 2020 oorgekoop het.

DP World se aanbod om Imperial oor te neem, is teen ’n ruim premie van byna 40% op Imperial se sluitingsprys van R47,50 Woensdag op die JSE, volgens Imperial se Sens-verklaring Donderdagoggend waarin hy die transaksie aankondig.

Die aanbod is ’n kontantaanbod van R66 per aandeel.

Imperial se aandeelprys het in reaksie op die nuus Donderdagoggend met ’n hele 33% tot R63,33 opgeskiet, byna tot by die aanbodprys.

Toets vir bemagtiging

Die groot toets is of die Mededingingskommissie die transaksie sal toelaat, want Imperial het pas in April ’n groot bemagtigingstransaksie met ’n bemagtigingskonsortium, Ukhamba, aangekondig. DP World en Imperial sê Ukhamba het wel ingestem dat die oorname voortgaan en dat DP World hom R219 miljoen sal betaal vir “uitgestelde” Imperial-aandele wat Ukhamba ingevolge die bemagtigingstransaksie sou koop.

Die Mededingingskommissie het in Mei besluit die verkoop van Burger King in Suid-Afrika aan ’n internasionale private-ekwiteitsfonds mag nie voortgaan nie omdat dit die bemagtigingsbelang in die onderneming van die huidige 68% tot 0% sal verlaag.

DP World sê hy steun bemagtiging ten volle en steun ook die voorgestelde Ukhamba-transaksie wat in April aangekondig is. Ukhamba sal ’n 25%-belang in die filiaal Imperial Logistics Suid-Afrika koop en ’n aandeelhouersvergadering word beplan vir 13 Julie, waar oor die bemagtigingstransaksie gestem sal word.

Verwag 190% groei

Imperial het in Augustus verlede jaar met die bekendmaking van sy jaarresultate tot einde Junie 2020 nog gewaarsku dat die Covid-19-pandemie en die inperkings sy bedrywighede erg geraak het.

In ’n handelsverslag Donderdag het hy wel gesê sake het sedertdien beter as verwag herstel en hy verwag ’n groei van meer as 190% in sy wesensverdienste per aandeel vir die boekjaar tot einde Junie vanjaar.

Die pandemie het die markwaarde van verskeie maatskappye afgedruk en ’n geleentheid vir sterk maatskappye met stewige balansstate gebied om oornames teen winskopies te doen.

Hawebestuur

DP World is internasionaal bedrywig in logistieke sake, insluitend voorsieningskettings en hawebestuur. Hy het in ’n stadium ook daarin belang gestel om by die bestuur van Suid-Afrikaanse hawens betrokke te raak toe gedeeltelike privatisering van sekere staatsbates kortstondig op die regering se agenda was in die laat 1990’s en vroeë 2000’s.

DP World het meer as 50 000 werknemers op ses vastelande en het die afgelope dekade sowat $18 miljard in infrastruktuur vir internasionale handel belê. Hy het tans konsessies met ’n gemiddelde duur van 35 jaar vir die bestuur van hawens wêreldwyd.

Volgens ’n gesamentlike verklaring deur Imperial en DP World sien laasgenoemde waarde in die oorname, want dit brei sy bestaande voetspoor in Afrika en Europa uit. Hy is reeds in Senegal, Mosambiek, Angola, Rwanda, Algerië en Egipte betrokke en sy beheergroep beplan nog beleggings van $2 miljard oor die volgende paar jaar in Afrika.

Die aandeelhouers van Imperial en van Ukhamba moet nog oor die transaksie stem en die nodige regulatoriese goedkeurings moet verkry word. Abax Investments, wat ’n 7,78%-belang in Imperial besit, het wel al bevestig hy sal die transaksie steun.

Meer oor:  Dp World  |  Imperial  |  Logistiek  |  Aandele  |  Verkrygings  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.