Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dokters, pasiënte nog sku vir daghospitale

Suid-Afrika het van die duurste private gesondheidsorg ter wêreld en daghospitale is ’n ooglopende antwoord om koste te verlaag, maar die bedryf wil nog nie regtig daaraan byt nie en pasiënte reken net “die mediese fonds betaal mos”.

Is daghospitale die antwoord op duur mediese kostes? Foto: Unsplash

Dis die frustrasies wat die daghospitaalgroep Advanced Health in sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie uitspreek.

Die maatskappy sê mediese skemas het in 2017 altesame R51,4 miljard aan hospitale betaal, ’n jaarstyging van 9,36%. Meer as 90% van hospitaaltoelatings was by die drie groot hospitaalgroepe – Mediclinic, Life Healthcare en Netcare.

Oorsee word die meerderheid van alle operasies in daghospitale uitgevoer, sê die maatskappy, maar Suid-Afrikaanse spesialiste “voel ongemaklik om sake van groter hospitale na daghospitale te verskuif”.

Dit kan deels toegeskryf word aan druk van groot hospitale, wat vir spesialiste konsultasiekamer-voorregte gee.

Ondanks dié klagtes sê Advanced daar is wel ’n toename in dokters wat eenvoudiger operasies na daghospitale begin verskuif. Die groep het 41% meer pasiënte behandel in sy 17 hospitale, waarvan drie nuwe hospitale is.

Dit het die groep vir die eerste keer in ’n posisie geplaas waar hy kontant uit sy bedrywighede verdien, en sy algehele verlies is byna gehalveer.

Die groep se inkomste het met 32% tot R409 miljoen gestyg. Sy wesensverlies per aandeel het met 35% tot net meer as 14c verbeter en sy skuld-tot-ekwiteitskoers het tot 58% verbeter (2017: 81%).

Advanced Health verdien 71% van sy inkomste uit Australië, waar hy in die deelstaat Nieu-Suid-Wallis (waarvan Sydney die hoofstad is) vyf daghospitale, waarvan een ’n laser-oogkliniek is, deur sy belang van 90,84% in Presmed besit. Twee van die hospitale is in die afgelope boekjaar geopen.

Presmed het die afgelope jaar meer as 15 000 operasies uitgevoer.

In Suid-Afrika het Advanced nou 11 daghospitale, met een wat in die afgelope boekjaar aan die Oos-Rand geopen is.

Die groep het sy eerste nege hospitale in ’n baie kort tydperk geopen en sê hy kan nou op inkomsteskepping en wins begin fokus. Daar is reeds tekens dat die verkryging van toerusting aan die daal is, “wat ’n goeie teken is vir die toekomstige kontantvloeiposisie van die onderneming”.

Carl Grillenberger, uitvoerende hoof, het vantevore gesê die meeste van die groep se hospitale behoort teen 2020 winsgewend te wees.

Die maatskappy herinner mense weer daaraan dat daghospitale langtermynbeleggings is, maar dit blyk beleggers sien nie dié langtermynprentjie nie. Die groep se aandeelprys verhandel teen slegs 47c op die AltX, minder as die helfte van die R1,38 waarteen dit in 2014 genoteer het.

Die maatskappy verklaar nog nie ’n dividend nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.