Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Drank is ‘sondebok vir regering se gebreke’

Die drankbedryf word om politieke redes as sondebok gebruik wat die skuld kry vir die regering se eie tekortkominge, insluitend swak wetstoepassing en gesondheidsorg.

Dit was Dinsdagaand die frustrasie van die wynbedryfsliggaam Vinpro, wat gereageer het op pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat drankverkope vir die Paasnaweek verbied word. Drank mag wel by restaurante bedien word.

Vinpro se hofsaak teen beperkings op drankverkope word op 28 en 29 April in die Kaapse hooggeregshof aangehoor. Die aansoek is in Januarie gebring, aanvanklik as dringende aansoek, maar die dringende deel daarvan is laat vaar toe die drankverbod op 2 Februarie opgehef is.

LEES OOK: Meer kerk, minder drink: 10 dinge wat jy moet weet

“In die lig van die inentingsprogram in Suid-Afrika wat uiters stadig uit die blokke kom en die chaos wat in Kaapstad se hawe aan die gang is en ’n groot invloed op uitvoer het, is die herstel van die ekonomie nou uiters belangrik, spesifiek die wyn- en toerismebedryf,” het Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, gesê.

Rico Basson besturende direkteur van Vinpro.

“ ’n Drastiese besluit oor inperkings van die verkope op drankprodukte maak in dié stadium nie enige sin nie en is ook geensins gegrond op wetenskaplike, empiriese data nie.

“Dit bly ’n bron van kommer en frustrasie dat ons nasionale regeringsvennote oor die afgelope jaar nie besluite op ’n deursigtige of wetenskaplike grondslag benader nie en dit blyk dat die drankbedryf doelbewus uit ’n politieke oogpunt die blaam moet dra vir wesenlike gebreke in die staatsdiens rondom polisiëring, wetstoepassing en die swak gesondheidstelsel.”

Hy het ook op Twitter uitgevaar teen die regulasies.

Die verbod, wat nie by restaurante geld nie, kom op wat gewoonlik die besigste tyd van die jaar ná Desember is. Die drankbedryf het die afgelope paar dae wel “paniekaankope” beleef in afwagting van ’n moontlike verbod. Mense het ook nog twee dae om hul yskaste vol te maak voordat die verbod Vrydag intree.

Die verbod is die vierde volslae verbod op drankverkope sedert die Covid-19-pandemie in Maart verlede jaar in Suid-Afrika uitgebreek het. ’n Gedeeltelike verbod, soos dat drank slegs op weekdae verkoop kon word, het vir die grootste deel van die jaar gegeld.

Die drankbedryf is egter nie van plan om die nuwe regulasies stil-stil te aanvaar nie. Die Vereniging vir Die Suid-Afrikaanse Vereniging (Salba) het Dinsdag, nog vóór Ramaphosa se toespraak, ’n dringende versoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien om inligting te bekom oor die besluit om weer eens ’n drankverbod in te stel.

Salba gee die regering tot Woensdag 31 Maart die geleentheid om die inligting te verskaf voordat hy sy volgende stap oorweeg.

Vinpro het in Januarie regstappe begin om die vorige drankverbod te laat ophef, maar het die dringende aansoek laat vaar. Die liggaam het toe gesê hy wil wel met die saak voortgaan juis om verdere inperkings te voorkom en ’n hofdatum is vir 28 en 29 April bekom. 

Vinpro sê die wynbedryf bly verbind tot dialoog met die regering, “al is sodanige konsultasie vanaf die regering dikwels gebrekkig.

“Ons het reeds drie weke gelede proaktief voorstelle gemaak via Nedlac en ander forums oor maatreëls wat spesifiek vir Paasnaweek oorweeg kan word. Dit het ingesluit ’n strenger aandklokreël, ’n beperking op getalle by byeenkomste, asook die streng polisiëring van brandpunte.”

’n Strenger aandklokreël is nié ingestel nie – dit bly middernag tot 04:00.

Vinpro sê die wynbedryf bly saam met die res van die drankbedryf toegewyd tot programme om die verantwoordelike gebruik van drankprodukte aan te moedig. “Deur Aware.org word daar weer eens voor Paasnaweek sterk gefokus op drink en loop en bestuur, minderjariges wat drank gebruik, fuifdrinkery en geslagsgegronde geweld.”

Meer oor:  Vinpro  |  Covid-19  |  Entstowwe  |  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Entstof  |  Vlak 2  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.