Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Drankbedryf: 10 000 poste verlore, waar is Patel?

Hoewel byna 10 000 poste in die afgelope vier weke in die drankbedryf verloor is en sowat R10 miljard se belasting en aksyns verlore kan gaan, reageer die minister van handel, nywerheid en mededinging glo nie op die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa) se versoek om dringend te vergader nie.

bier, bierglas, kroeg
Duisende mense is al afgelê of loop die risiko om afgelê te word weens die voortslepende verbod op drankverkope. Foto: Unsplash

Nadat skade aan 161 drankwinkels en verspreidingsentrums in verlede week se onluste aangerig is, wou die bierbedryf dringend met Ebrahim Patel vergader in die hoop dat hy kan help om die drankverbod op te hef.

Die vereniging sê in ’n verklaring die drankverbod knou net wettige ondernemings omdat soveel drank in die onluste geplunder is.

Die vereniging, tesame met die Vereniging van Drankhandelaars in Suid-Afrika (LTASA) en die wynprodusenteorganisasie Vinpro, het aan Patel geskryf om ’n dringende vergadering te versoek.

Volgens Basa is dit teleurstellend dat geen reaksie tot op hede van Patel se kantoor ontvang is nie.

“Daarom doen die bierbedryf ’n beroep op minister Patel om dringend ’n vergadering te belê en in te gryp om ’n sektor op die rand van ineenstorting te red.”

Na raming stel die jongste verbod van vier weke 9 206 poste in die drankbedryf in gevaar met ’n potensiële verlies van R10,2 miljard aan belasting en aksyns.

Dit volg op die drie vorige kere wat die drankverbod ingestel is, wat daartoe gelei het dat meer as 7 400 werkgeleenthede net in die bierbedryf verlore gegaan het en daar ’n verlies van R14,2 miljard aan bierverkope en meer as R7,8 miljard aan belasting en aksyns was.

Minister of Trade, Industry and Competition Ebrahi
Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging.

Die vereniging sê terselfdertyd is alkohol steeds in die onwettige bedryf beskikbaar.

Die plundering van drankwinkels en verspreiders verlede week in KwaZulu-Natal en Gauteng het daartoe bygedra dat die onwettige verkoop van alkohol verder toegeneem het, wat die huidige verbod nog meer oorbodig maak.

Mikrobrouers veg om oorlewing

Basa is oorval met die verhale van mikrobrouerye wie se ondernemings deur die jongste verbod verwoes is net toe hulle stadig weer op die been begin kom het.

  • Aegir

Dié brouery in Noordhoek, Kaapstad, is in 2015 gestig en het voor die Covid-19-inperking gefloreer.

Die brouery het sy personeel van 12 tot 60 mense uitgebrei en ’n tweede restaurant in Constantia geopen.

As gevolg van die verbod het die nuwe restaurant permanent gesluit en ses mense is sonder werk.

Sedertdien is ’n verdere 12 werkers afgelê, terwyl die oorblywende personeel gedwing is om minder ure en teen minder betaling te werk.

Rory Lancellas, die eienaar, sê hulle moes die personeel wat die weerloosste is met gesinne en kinders prioritiseer. “Ons kan dit nie veel langer volhou nie. Ek het ook kinders, dit is baie moeilik om te sien hoe gesinne hierdeur gaan.”

  • Airport Craft Breweries

Dié brouery, wat sy deure in 2014 by die internasionale lughawe OR Tambo geopen het, het voor die inperking net meer as 100 personeellede in diens gehad. Meer as die helfte het reeds hul werk verloor.

Die hoofbrouer, Phumelo Marali, is gedwing om by sy familie in Gqeberha te gaan woon omdat hy die afgelope paar weke nie ’n inkomste kon verdien nie.

“Die hartseerste is dat ons bejaardes het wat in die kombuise as sjefs en assistente werk. As ons maatskappy heeltemal sluit, sal hulle nêrens anders werk kry nie, want dit is baie moeilik om op 55- of 60-jarige ouderdom aangestel te word.

“Die pandemie en drankverbod het hulle beroof van die geleentheid om vir hul gesinne te voorsien.”

Meer oor:  Ebrahim Patel  |  Inperking  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Drankverkope  |  Inperkingsmaatreëls  |  Bierbedryf  |  Drank  |  Plundery En Geweld  |  Bier  |  Koronavirus  |  Onluste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.