Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Drankbedryf bly oor 3 maande hulp met aksyns

Blydskap en verligting klink op uit die drankbedryf oor die gedeeltelike verligting wat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig het ná altesame 161 handelsdae wat die bedryf reeds verloor het weens die staat van inperking.

Kroeë, restaurante en tavernes word van Maandag toegelaat om tot 20:00 drank aan klante te bedien ná ’n gedeeltelike verslapping van die drankverbod. Drankwinkels mag van Maandae tot Donderdae tussen 10:00 en 18:00 sake doen. Foto: Unsplash

Al val die drankverbod nie heeltemal weg nie, is ’n verslapping daarvan aankondig, en word die uitstel van drie maande vir die betaling van aksyns deur die drankbedryf veral verwelkom.

Die drankbedryf het van 26 Maart 2020 tot 25 Julie vanjaar 161 handelsdae verloor as gevolg van die regering se regulasies oor drankverkope in ’n poging om die infeksiekoers van die koronavirus te verlaag, volgens Kurt Moore, uitvoerende hoof van die Vereniging van Drankhandelsnaameienaars (Salba).

Die toegewing wat nou gemaak is met die betaling van aksyns, sal die bedryf sowat R2,5 miljard spaar en help om ’n pad van herstel te begin stap, sê hy.

Salba het reeds vroeër die maand ’n beroep op die regering gedoen om aksyns-verligting aan die bedryf te gee, soos ook in die eerste fase van die inperking.

LEES OOK: Drankbedryf pleit vir grasie van Jan Taks

Bedryfsliggame het reeds Sondagaand op verskeie sosialemediaplatforms opgemerk die verligting bring hoop, maar dat die eerste prys steeds sal wees om drankverkope sonder enige beperkings toe te laat.

Sibani Mngadi, voorsitter van Salba, sê hoewel die verligting met aksyns en die gedeeltelike oopstelling van die bedryf groot verligting bring, beteken dit nie die bedryf is nou buite gevaar nie.

“Ons is nie naastenby uit die moeilikheid nie, veral nie ondernemings wat drank vir tuisverbruik verkoop nie.”

Mngadi sê die regering se gedeeltelike verligting, wat drankverkope slegs tussen Maandae en Donderdae toelaat, is nie rasioneel nie en geen bewyse word aan die bedryf gegee vir hoekom so ’n besluit geneem is nie.

Salba vra daarom die regering moet meer openlik wees met die wetenskaplike inligting wat gebruik word om hierdie spesifieke regulasie te regverdig.

“Die regering se besluit om drankverkope te beperk hou vernietigende gevolge in vir die bedryf, dit is ingestel sonder waarskuwing of konsultasie met die bedryf en met swak statistiese regverdiging.”

Volgens Salba het elke instelling van ’n drankverbod nie net skade aan die drankbedryf se koffers aangerig nie, maar ook aan die regering s’n.

“Dit het ook baie mense se werk in die gedrang gebring en amper 250 000 poste is steeds in gevaar,” waarsku Moore.

Hy sê die 248 759 poste wat Salba skat dalk verlore kan raak, kom neer op 1,59% van die nasionale totaal van formele en informele werkskepping vir 2020.

Mngadi sê dit is nie net die drankbedryf wat hieronder ly nie, die gevolge strek tot in ander bedrywe, soos die landbou-, restaurant-, vervaardiging- en toerismebedryf, wat ook afhanklik is van drankverkope.

Hy sê wettige ondernemings moet toegelaat word om sonder die risiko vir die verdere instelling van ’n drankverbod voort te gaan met hul bedrywighede.

“ ’n Drankverbod verhoed wettige ondernemings om (gesamentlik) meer as ’n miljoen mense se inkomste te beskerm.

“Die uitwerking van die drankverbod en die onlangse onluste, geweld en plundering het onherroeplike skade aan Suid-Afrika se beeld onder beleggers aangerig, en vanuit ’n internasionale toerisme-oogpunt.”

Die liggaam wil ook volhou met sy pogings om saam met die regering te werk aan ’n duidelike, deursigtige en gedetailleerde plan wat die bedryf en sy waardeketting op ’n herstelpad sal plaas.

“Ons fokus is nou op ekonomiese herstel en die rol wat die drankbedryf hierin speel, is kritiek,” sê hy.

Meer oor:  Salba  |  Restaurante  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Kroeë  |  Drankverkope  |  Bierbedryf  |  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Bier  |  Koronavirus  |  Bierbrouerye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.