Die drankbedryf het die nuwe benadering om drankverkope per brandpunt te beperk, verwelkom.

Drankverkope is slegs in Port Elizabeth ingeperk omdat dit tot brandpunt verklaar is. Foto: Jaco Marais
Foto: Jaco Marais
Sibani Mngadi, voorsitter van die Suid-Afrikaanse vereniging van drankhandelsnaameienaars (Salba), sê die sektor ondersteun die benadering van die regering dat ingrypings tot spesifieke gebiede beperk word.
Die Nelson Mandelabaai-metro (Port Elizabeth, Dispatch en Uitenhage) is tot die eerste brandpunt onder die nuwe regulasies oor brandpunte verklaar.
Die strenger maatreëls waaraan die mense in die gebied gehoor moet gee bo en behalwe die algemene vlak 1-inperkings waarop die res van die land is, is nodig weens die skerp toename in infeksies daar.
Mngadi sê die “rasionele en gematigde reaksie van die regering word gerespekteer”.
Die bedryf het vanjaar groot skade gely weens ’n verbod op drankverkope wat twee keer landwyd ingestel is.
Drankverkope word nou van Maandae tot Donderdag van 10:00 tot 18:00 beperk. ’n Aandklokreël vanaf 22:00 beteken ook kroeë en restaurante mag nie daarna drank verkoop nie.
Die drankbedryf het reeds met strenger selfregulasie in Nelson Mandelabaai begin in samewerking met die provinsiale regering, volgens hom.
Die bedryf gaan 80 mense oplei en ontplooi as patrolliebeamptes by die agt polisiekantore in die brandpunte in die Oos-Kaap. Dié patrolliebeamptes gaan met die polisie en gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) saamwerk om plekke wat alkohol verkoop se nakoming aan regulasies te verseker.
’n Program is ook saam met die GPF’s begin om nakoming aan Covid-19-veiligheidsmaatstawwe en lisensievoorwaardes af te dwing en gevare wat lei tot geslagsgeweld en moord op vroue aan te pak.
Die bedryf gaan ook R30 miljoen se persoonlike beskermende toerusting aan die Oos-Kaap skenk.
’n Beroep is gedoen op plekke wat drank verkoop en bedien om Covid-19-regulasies na te kom en aan te dring daarop dat klante maskers dra, gesonde afstande handhaaf en hou by die aandklokreël.