Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Drankbedryf ‘moenie nóú met regulasies slaplê’

’n Bedryfsliggaam vir drankwinkels en sjebiens begin nou reeds voorbrand maak téén nog ’n verbod op drankverkope. Dit kom te midde van aanduidings dat die getal infeksies in verskeie provinsies aan die styg is.

Die NLTC vra die drankbedryf om steeds waaksaam te wees en nie soos net voor die tweede vlaag die toepassing van die Covid-19-maatreëls te verslap nie. Foto: Unsplash

Die National Liquor Traders Council (NLTC) waarsku sy lede om steeds die Covid-19-regulasies streng te handhaaf.

Die NLTC sê nog ’n verbod op drankverkope weens ’n moontlike derde vlaag infeksies kan vernietigend vir veral sjebiens en tavernes in townships wees.

Lucky Ntimane, sameroeper van die NLTC, sê nog ’n verbod sal baie eienaars finaal onderkry. “As dít gebeur, sal die geskiedenis die enigste verwysing wees na wat eens die trots van swart eienaarskap in townships was.”

Ntimane doen ’n beroep op die regering om die inentingsprogram dringend te bespoedig sodat lewens gered kan word en die ekonomie aan die gang kan bly. Hy reken benewens ’n versnelde inentingsprogram is perke op groot samekomste een van die effektiewer maniere om die verspreiding van die koronavirus te beperk.

“Ons weet die regering kyk altyd na perke op drankverkope as ’n eerste maatreël, maar hy kan steeds nie bewys dat dit die effektiefste manier is om ’n verspreiding te bekamp nie. Ons vra besluitnemers om oop kaarte met die publiek te speel oor die redes en bewyse wat hulle gebruik as dit by die besluitnemingsprosesse oor inperkings kom.

“Ons wil ook vertroue hê dat dit die beste beskikbare opsies is,” sê Ntimane.

Hy waarsku mense om nie nou laks te wees in die toepassing van Covid-19-maatreëls nie, al is baie al moeg en smag hulle net daarna om na hul “normale lewens” terug te keer. Volgens hom sal dit ’n tragedie wees as ’n derde vlaag die land tref omdat mense “nie meer omgee nie” terwyl die land se inentingsprogram op dreef kom.

Die NLTC werk reeds nou saam met die drankbedryf en eienaars van kuierplekke om mense aan te spoor om by die Covid-19-veiligheidsmaatreëls te hou.

In sommige plekke is gemeenskappe se polisiëringsforums al ingespan om die maatreëls te help toepas. Inspeksies word ook gereeld gehou, sê die NLTC.

Eienaars van tavernes en sjebiens met alle nodige permitte het ook opleiding ontvang oor hoekom by die maatreëls gehou moet word. Dié wat steeds nie gehoor gee aan die regulasies nie, word vir verdere optrede by die nodige owerhede aangegee.

Aware.org het al 40 000 stelle beskermende klere (PPE-pakke) onder tavernes, asook handreinigers en opvoedingsmateriaal versprei.

Aware.org het ook tydens die inperking kospakkies aan 20 000 tavernes gegee en PPE-pakke aan 25 hospitale geskenk. Die organisasie het ook reeds R145 miljoen aan inisiatiewe spandeer. Dit sluit nie eens vervaardigers se eie inisiatiewe in nie.

’n Program is saam met Distell begin om taverne-eienaars aan te spoor om aan die Covid-19-maatreëls en dranklisensies te voldoen. Oudits van die gesamentlike program het sukses getoon, met 89% van meer as 18 000 tavernes wat sedert Oktober aan die maatreëls en lisensies voldoen het. Toe die program afgeskop het, was dié persentasie maar 75%.

Heineken het gehelp om mense te huur om by 100 polisiekantore landwyd met patrollies te help.

Die drankmaatskappy Diageo het ondernemings in die informele en formele sektor in Johannesburg, Kaapstad en Durban gehelp om weer op die been te kom deur onder meer te help om voorraad te verskaf en ondersteuning met bemarking te bied. Diageo se totale belegging aan die #WeChoose-veldtog beloop R200 miljoen.

“Ons het almal een les uit Covid-19 geleer en dis dat ons op mekaar staatmaak vir oorlewing. As ons bou op die vennootskappe tussen die bedryf, township-entrepreneurs en die regering, kan ons Covid-19 oorwin en sterker anderkant uitstap.”

Meer oor:  Drank  |  Sjebiens  |  Nltc  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Drankverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.