Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Drankbedryf pleit vir grasie van Jan Taks

Die drankbedryf sê hy kan nie nou bekostig om die R1,5 miljard aksyns wat hy nou aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verskuldig is, oor te betaal nie.

Die drankbedryf waarsku amper 5 000 mense kan hul werk verloor weens die huidige verbod op drankverkope. Foto: Unsplash

Die vereniging vir drankhandelsnaameienaars (Salba), wat groot drankprodusente verteenwoordig, sê die drankbedryf pleit vir uitstel vir dié betaling, soos in die eerste fase van die inperking vir die Covid-19-pandemie toegestaan is.

Die R1,5 miljard is die aksyns wat verskuldig is vir drank wat geproduseer is tydens die twee weke lange verbod op drankverkope.

Aksyns op drank word gehef wanneer die vervaardiging daarvan begin, nie wanneer dit verkoop word nie.

Dit beteken die bedryf dra die las van aksyns op eindprodukte wat in stoorkamers staan, maar nie verkoop kan word nie weens die verbod op drankverkope wat verlede Sondag aangekondig is.

Salba waarsku die regering verbeur reeds R3,6 miljard se belasting op toegevoegde waarde (BTW) weens die algehele verbod op drankverkope wat sedert 28 Junie geld.

Die bedryf vrees dat nagenoeg 5 000 mense hul werk kan verloor weens die jongste verbod, wat in dié stadium tot Sondag 11 Julie duur. Daar is nog geen aanduiding of die verbod op drankverkope verleng gaan word nie.

Salba raam dat drankhandelaars tot R6,1 miljard in inkomste verloor weens die twee weke lange verbod.

“Dié bedrag verteenwoordig 4,1% van wat die verwagte waarde in verkope vir 2021 sou wees,” sê Sibani Mngadi, Salba se voorsitter.

Die BTW van R3,6 miljard wat die regering verloor, verteenwoordig ongeveer 0,3% van 2020 se nasionale belastinginkomste.

Salba verteenwoordig groot drankvervaardigers soos Heineken, Distell, DGB, Diageo en Pernod Ricard.

“Een van die min opsies wat ons het om op kort termyn likiditeit te behou, is om vir eers nie rekeninge te betaal nie. En die maandelikse aksyns aan die SAID is verantwoordelik vir ’n baie groot deel van die maandelikse rekening,” waarsku Mngadi.

Die vereniging vra indien die huidige drankverbod ná 11 Julie verleng word, ’n toegewing oor aksyns vir die hele tyd sal geld tot wanneer die verbod opgehef word.

“Die bedryf en sy waardeketting word deur ’n enorme finansiële krisis in die gesig gestaar. Die kapasiteit om dié soort betalings te doen, is daarom baie beperk.”

Werksverliese kan enorm wees

Dit is volgens hom noodsaaklik vir die bedryf se voortbestaan dat toegewings dringend gemaak word, aangesien mense se werk op die spel is.

“Die huidige verbod kan daartoe bydra dat ’n geskatte 4 604 mense hul werk kan verloor. Ons verwag daar kan in totaal tot 233 547 poste in die bedryf verlore gaan.”

Salba verteenwoordig sowat 35 000 ondernemings in townships, soos tavernes, meer as 10 000 kleinhandelaars en ongeveer 22 500 restaurante, hotelle en wynplase.

“Daar is geen hulpmiddele in plek gestel om die vernietigende impak te bestuur wat die inperkings op die inkomste van mense in die reis-, drank- en toerismebedryf het nie.”

Salba sê dit lyk asof hierdie bedrywe sal aanhou om die swaarste getref te word deur die regering se regulasies totdat daar eendag genoeg inentings onder Suid-Afrikaners gedoen is.

Daar is wel Dinsdag aangekondig dat die Covid-19-Ters-uitbetalings vir restaurante gedoen sal word om salarisse te betaal terwyl restaurante toe is.

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Bier  |  Koronavirus  |  Suid-Afrikaanse Inkomstediens  |  Aksyns  |  Bierbrouerye  |  Belasting  |  Restaurante  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Kroeë  |  Drankverkope  |  Bierbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.