Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Drankbedryf rol moue op in geveg teen Covid-19

Die drankbedryf het Maandag weggespring met verskeie planne en inisiatiewe om te keer dat nog ’n drankverbod ingestel word wat die bedryf net weer onder groot druk sal plaas.

Francina Lee (57) werk al 25 jaar lank vir Distell en was een van die werknemers wat Maandag haar inenting by die maatskappy in Stellenbosch gekry het.

Die drankvervaardiger Distell het Vrydag aangekondig ’n aansoek om sy werknemers te laat inent is goedgekeur.

Kort op sy hakke was die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) wat ’n plan aangekondig het om handelaars en drankwinkels te help om by die regulasies ingevolge die inperking te hou.

Distell het toestemming van die regering gekry om onafhanklik te begin om by vyf van sy eiendomme werkers teen Covid-19 in te ent.

Die eerste werknemers is Maandag by Distell se Bergkelder-perseel in Stellenbosch ingeënt. Die ander vier plekke waar hy werknemers mag inent, is by sy aanlegte in Gqeberha (Port Elizabeth), Springs en Wadeville in Gauteng, asook New Germany in KwaZulu-Natal.

Volgens die drankgroep se verklaring is 2 000 van sy werknemers en meer as ’n 1 000 se eggenote, reeds geregistreer en kwalifiseer hulle vir die inenting.

Richard Rushton, die Distell-groep se uitvoerende hoof, sê dit bly elke werknemer se persoonlike keuse om ingeënt te word of nie.

“Niemand sal gedwing om dit te kry nie en daar sal ook nie teen enige werknemer gediskrimineer word in gevalle waar mense nie die inenting wil hê nie,” sê hy.

Rushton sê egter inentings is die enigste volhoubare pad wat weg van hierdie pandemie gestap kan word en ook belangrik sodat die land in volle gang na ekonomiese aktiwiteit kan terugkeer.

“Ná meer as ’n jaar se versmorende regulasies wat die drankbedryf veral hard geslaan het, is ons optimisties dat ons ook nou kan begin om ons rol te speel om die ekonomie weer op te bou deur by te dra om die inentings vinniger te laat geskied.”

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, was Maandag daar toe Distell sy werknemers begin inent het.

Volgens Winde is dit belangrik om ook saam met die private sektor te werk om ’n beduidende netwerk van inentingsentrums in die provinsie gereed te kry.

“Dit is goed om te sien hoe ’n groot werkgewer in die provinsie sy eie inentingsprogram begin en so help om al hoe meer mense teen Covid-19 te beskerm. Ek hoop ons sien nog baie meer van hierdie sentrums oor die provinsie heen.”

Distell het ook aansoek gedoen om lede van die publiek in te ent en wag vir toestemming om hiermee te begin.

Sy program word saam met Incon, die groep se mediese diensteverskaffer, bekend gestel en personeel wat in afgeleë en plaaslike gebiede woon, sal ook ingeënt word.

Werknemers ontvang die Pfizer-inentings en Distell dra die volle koste daarvan.

Jo Tau, een van die werknemers wat Maandag gewag het om ingeënt te word, sê hoewel sy besef die inenting kan dalk seer wees, is die verligting daarvan om uiteindelik beskerming te kry teen die dodelike virus, baie groot.

“Die spanning van die afgeloop jaar kom nou uiteindelik tot ’n einde en ek sien daarna uit om binnekort weer na ’n mate van normaliteit terug te,” sê Tau.

Program moedig drankwinkels en tavernes aan

Die SAB het Maandag sy planne bekend gemaak om saam met ander rolspelers in die drankbedryf ’n program van stapel te stuur om handelaars en drankwinkels te help om verantwoordelik en binne die regulasies met drank handel te dryf.

Volgens die SAB se verklaring sal die program, wat as die Responsible Trading Programme (RTP) bekend sal staan, onder meer ook kwessies soos drankmisbruik aanraak.

Kgosi Mogotsi, die SAB se direkteur van korporatiewe sake, sê drankhandelaars moet begin om leiding te neem deur die regte voorbeeld te stel.

“Die RTP is die begin van ’n nuwe era wat drankverbruik in Suid-Afrika betref.”

Die program is volgens hom daarop gemik om handelaars en drankwinkels te erken wat moeite doen om verantwoordelike verbruik aan te moedig, veral nou gedurende Covid-19.

“Handelaars sal gemeet word aan hoe hulle by die Covid-19-regulasies hou en sal op drie vlakke beoordeel word en daarvolgens erkenning ontvang.”

Volgens hom sal sowat 32 000 lede landswyd aan hierdie program deelneem en tavernes sal eerste aan die beurt kom.

Meer oor:  Distell  |  Drank  |  Gesondheid  |  Drankbedryf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.