Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Drankbedryf: ‘Sê tog net wanneer verbod eindig’

Die gebrek aan kommunikasie van die regering oor wanneer die verbod op drankverkope opgehef of verlig gaan word, maak beplanning in die drankbedryf “uiters moeilik”.

Wynproeë en wynverkope by drankwinkels, wynkelders en in restaurante is onwettig ingevolge die heersende vlak 3-inperkings. Die enigste aanduiding wat tans bestaan, is dat dit teen 15 Februarie hersien sal word.

Zoleka Lisa, die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) se visepresident van korporatiewe sake, het Maandag bevestig hulle probeer ondanks ’n hofsaak oor die drankverbod wat verlede week aanhangig gemaak is, steeds met die regering onderhandel om oplossings te vind wat volhoubaarder as ’n algehele verbod is.

“Ons vra die regering met alle respek om met die bedryf en alle maatskaplike vennote in gesprek te tree om groter verantwoordbaarheid in besluitneming te bereik soos ons die pandemie probeer navigeer.

“SAB bly daartoe verbind om die land se stryd te ondersteun en is vasbeslote om ons deel te doen om te verseker dat ons positief tot die land se ekonomiese herstel en stabiliteit bydra. Maar ons is oortuig daarvan dat ’n meer gebalanseerde benadering op lang termyn beter sal wees.”

Dit kom nadat ander dele van die drank- en gasvryheidsbedryf ook die afgelope weke pleit dat die regering net aandui hoe lank die drankverbod gaan voortsleep sodat hulle daarvolgens kan beplan.

“Dit is soos iemand wat jou kop onder die water druk en jou nie waarsku vir hoe lank hy dit gaan doen nie,” het Boyce Lloyd, uitvoerende hoof van KWV, onlangs aan Netwerk24 gesê.

“As jy weet die verbod geld vier weke, kan jy voorbereidings tref om te oorleef. Maar as jy nie weet of dit vier weke of ses maande is nie, maak dit ’n geweldige verskil en moet jy drastiese stappe doen om te oorleef. Dit is daai geweldige onsekerheid wat dit amper onhoudbaar maak.”

Wendy Pienaar, voorsitter van die Mikrobrouery-vereniging van Suid-Afrika, sê die huidige verbod het ’n verwoestende uitwerking op die bedryf.

“Dit is nou nie meer ’n kwessie of die ondernemings sal kan oopbly nie, maar of die eienaars van hierdie klein ondernemings se personeel en gesinne dié maand kos gaan hê om te eet.”

Die regering se repliek op die hofsaak deur SAB, die Restaurantvereniging van Suid-Afrika en Consol word enige oomblik verwag.

Lisa se opmerkings kom nadat SAB verlede week die kontrakte van 550 tydelike werknemers in sy logistieke afdeling – hoofsaaklik pakkers en afleweraars – opgeskort het. Die afleggings kom omdat SAB se pakstore byna vol is en sy produksie verminder omdat geen drankverkope en -vervoer sedert 28 Desember kon plaasvind nie.

LEES OOK: SAB dank 550 mense af weens drankverbod

Lisa sê dis hartverskeurend dat 550 gesinne wat self niks verkeerd gedoen het nie, laat gaan moes word. Die derde drankverbod het egter tot ’n daling in die vraag na hul vaardighede gelei.

SAB doen alles moontlik om te voorkom dat hy permanente werknemers moet aflê. Heineken het onlangs aangekondig dat hy 70 mense gaan aflê.

SAB het wel vroeër aangekondig dat hy R5 miljard se kapitaalbesteding opskort en werknemers sal tot einde 2021 steeds die 10% verbeur waarmee hul salarisse verlede jaar verlaag is.

SAB is die Suid-Afrikaanse filiaal van die wêreld se grootste brouery, Anheuser-Busch InBev (AB InBev). AB InBev se aandeelprys het sedert die begin van die jaar met 3,5% gedaal.

Suid-Afrika is nie die enigste van AB InBev se markte waar beperkings op drankverkope regstreeks heers of waar die sluiting van restaurante en kroeë, of beperkings op hul kapasiteit, onregstreeks drankverkope inperk nie.

Restaurante en kroeë is in talle Europese lande toe, insluitend Frankryk, Duitsland, Portugal, Nederland, Denemarke en Ierland. Baie van dié lande het ook ’n aandklokreël (18:00 in Frankryk, byvoorbeeld) en beperk verkope tot noodsaaklike goedere, wat drankverkope ook beperk.

Dit geld ook in Latyns-Amerika, soos in Argentinië waar restaurante net 30% vol mag wees, terwyl in Santiago in Chili ’n kapasiteit van 25% toegelaat word en alle nienoodsaaklike winkels oor naweke moet sluit. Brasilië, een van die lande met die hoogste infeksiekoerse, dwing baie min beperkings af.

Meer oor:  Ab Inbev  |  Sab  |  Heineken  |  Anheuser-Busch Inbev  |  Drankverkope  |  Bierbedryf  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Kroeë  |  Restaurante  |  Bierbrouerye  |  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Bier  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.