Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Drankbedryf vrees duisende gaan hul werk verloor

Die drankbedryf is in sak en as nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig het die verbod op drankverkope bly onveranderd.

drankverbod
Rakke vol wyn gaar stof op in drankwinkels en inbrake by baie drankwinkels word aangemeld. Foto: Jaco Marais

Restaurante het wel goeie nuus gekry dat hulle weer hul tafels mag dek, hoewel alkohol steeds nie bedien mag word nie.

Ramaphosa het gesê hy besef die drankbedryf lewer ’n waardevolle bydrae tot die ekonomie. Perke op drankverkope verlaag egter toelatings tot hospitale weens alkoholverwante trauma soos motorongelukke en interpersoonlike geweld.

Alkoholmisbruik gaan ook met samekomste gepaard waarop regulasies gemik op die verspreiding van Covid-19 verontagsaam word.

Die wynbedryfsliggaam Vinpro waarsku die regering se besluit om “goeie voorstelle” vanuit die bedryf te ignoreer, hou erge gevolge in.

“Die regering hou aan om met ’n stomp voorwerp te slaan en grondige voorstelle vanuit die bedryf te ignoreer – met droewige gevolge. Ons lewensaar word afgesny sonder dat enige oorweging gegee word aan Suid-Afrikaners wat deur werkloosheid en armoede in die gesig gestaar word omdat hul werkgewers sukkel om ’n bestaan te maak.”

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, het ook op Twitter uitgevaar teen die onveranderde regulasie oor drankverkope.

“Dis duidelik dat die president en sy regering nie verstaan óf waardeer hoe die wynbedryf werk nie. Die wynbedryf is nóg ’n harde slag toegedien en baie (in die bedryf) stuur SMS’e aan my wat lui dat hulle hul deure permanent gaan sluit. Groot werkverliese gaan volg,” skryf Meyer.

Die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa) gaan ’n dringende versoek rig om toegang tot inligting te bekom deur op die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) staat te maak.

Die regering hou aan om met ’n stomp voorwerp te slaan en grondige voorstelle vanuit die bedryf te ignoreer – met droewige gevolge.
Vinpro

In ’n verklaring skryf Basa hulle soek die bewyse wat die regering gebruik het om die vlak 4-inperking te verleng en die drankverbod onveranderd te hou.

“Die huidige verbod op drankverkope, wat sedert 28 Junie geld, het reeds ’n vernietigende hou aan die drankbedryf toegedien.

“Sowat 4 603 poste kan verlore gaan en die land word deur ’n potensiële verlies van R5,1 miljard in aksyns en belasting in die gesig gestaar weens die verbod.”

Basa skryf soos hulle dit verstaan uit gesprekke wat deur die vereniging op regeringsvlak gevoer is, het die regering erken die hoofrede vir infeksies is groot samekomste waarop mense nie maskers dra en sosiale afstand handhaar nie.

“Ons het nog nie die inligting ontvang wat wys daar is ’n skakel tussen die toename in hospitaaltoelatings en drankgebruik nie, al het ons dié inligting op verskeie geleenthede van die regering aangevra. Ons gaan nou ons Paia-versoek indien sodat ons die rasionaal agter die verbod kan verstaan terwyl duisende mense hulle werk kan verloor en die tesourie miljarde gaan verloor.”

Basa sê dis ook kommerwekkend dat die media vroeër Sondag berig het dat die kabinet twee weke gelede besluit het die aangepaste vlak 4 moet 21 dae lank duur. Twee weke is toe ingestel met die voorbehoud dat dit dan hersien sal word.

Basa beskuldig die regering daarvan dat hy nie in goeder trou na die drankbedryf se voorstelle geluister het nie omdat hy geweet het die verbod gaan verleng word.

Die Vereniging van Drankhandelsnaameienaars (Salba) en die Nasionale Raad van Drankhandelaars (NLTC) het ’n gesamentlike verklaring uitgereik waarin die twee liggame hul ongelukkigheid uitspreek oor die verlengde verbod op drankverkope.

Hulle haal óók die bewerings aan dat die regering van plan was om die verbod te verleng.

“Salba wil daarom uitvind of Ramaphosa die publiek aspris mislei het deur ’n korter verbod op drankverkope aan te kondig twee weke gelde, terwyl die aanbeveling vir 21 dae was.”

Sibani Mngadi, Salba se voorsitter, sê die drankbedryf, tavernes, restaurante en toerisme-ondernemings dra die swaarste las as gevolg van die regering se onvermoë om Covid-19 doeltreffend te beveg.

Salba het Sondag gewaarsku baie van sy lede het die afgelope twee weke deurgeloop onder plunderaars wat by persele, stoorkamers en winkels ingebreek en drank gesteel het. “Die afgelope week het ons berigte ontvang van inbrake in Pretoria, Boksburg, Durban en Bloemfontein.”

Mngadi sê die onwettige vervaardiging en stook van drank het in so ’n mate toegeneem dat wetsoortreders dit op groot skaal verkoop.

“Baie ondernemings is ook geraak deur die politieke onrus wat dié week in KwaZulu-Natal en Gauteng uitgebreek het weens die inhegtenisneming van oudpres. Jacob Zuma. Mense het winkels geplunder en drank gesteel omdat hulle nie andersins nie toegang tot drank kon kry nie.”

Volgens Rosemary Anderson, voorsitter van Fedhasa, die bedryfsliggaam vir hotelle, restaurante en toerisme-ondernemings, is dit wonderlike nuus dat restaurante weer gaste mag bedien, maar die feit dat alkohol steeds nie verkoop mag word nie, beteken baie van die plekke sal nie finansieel lewensvatbaar kan sake doen nie.

“Ons is dankbaar teenoor die president dat die regering ons versoeke erken en positief daarop gereageer het. Dis net baie hartseer dat die meeste restaurante gaan sukkel omdat hulle nie drank kan bedien nie.”

Ramaphosa het aangekondig die Covid-19-Ters-skema sal verleng word en beskikbaar wees vir bedrywe wat deur die regulasies geraak word.

Basa en Vinpro het albei gesê hulle sal wag vir meer inligting oor die Ters-skema voordat hulle daaroor kommentaar gelewer.

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Bier  |  Koronavirus  |  Bierbrouerye  |  Restaurante  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Kroeë  |  Drankverkope  |  Bierbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.