Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Drankbedryf wil help, ‘maar regering weerhou trauma-data’
Drankwinkels se deure is sedert Maandag weer gesluit. Foto: Jaco Marais

Die drankbedryf wil daadwerklik ingryp om alkoholverwante trauma-gevalle by hospitale te pak.

Maar dit vereis gesondheids- en alkoholverwante inligting van private en staatshospitale en klinieke, en die regering het hierdie syfers nog nooit met die bedryf gedeel nie.

Só het die Suid-Afrikaanse drankbedryf op die regering se jongste beskuldigings gereageer dat hospitale se ongevalle- en hoësorgeenhede nie genoeg beddens vir Covid-19-pasiënte het nie omdat drankverkope weer toegelaat is.

Die hernude verbod op drankverkope is ’n potensiële ramp vir die bedryf en verbruikers weens die verwagte werkverliese, het die bedryf Maandag in ’n gesamentlike verklaring gesê, wat deur die Nasionale Drankhandelaarsraad, die Suid-Afrikaanse Drankhandelsnaameienaarsvereniging, die Biervereniging van Suid-Afrika, Vinpro, die Drankhandelaarsvereniging van Suid-Afrika en vervaardigers uitgereik is.

Ondanks die bedryf se skakeling met die regering en veral die departement van handel, nywerheid en mededinging oor die afgelope maand om te sorg dat die bedryf by die beperkings op handelsdae en -ure hou, is die bedryf nooit vooraf oor die jongste verbod gewaarsku nie.

Die bedryf het geen geleentheid gekry om met die nasionale Covid-19-bevelsraad te konsulteer voordat die besluit geneem is nie. Die onmiddellike logistieke probleme wat die besluit vir verskaffers, verspreiders en kleinhandelaars inhou, is glad nie in ag geneem nie.

Volgens die bedryf is hy bereid om met die regering saam te werk om gedragsveranderings aan te moedig wat drankverbruik betref en het laas op 6 Julie met die regering daaroor geskakel, maar wag nou nog op reaksie.

Die bedryf het intussen R18 miljard se inkomste verloor, en daardeur het die regering R3,4 miljard se belasting verbeur. Die regering verloor ook belastinginkomste weens die groei in die verkoop van onwettige drank waarop geen belasting betaal word nie.

Soos gesien in die aanvanklike drankverbod aan die begin van die inperking sal verdere perke op drankverkope die onwettige mark stimuleer. Dit skep ook veiligheidsrisiko’s vir drankhandelaars. Die onwettige mark doen meestal onbeheers sake en die regering kan dit nie reguleer nie.

As die regering die drankverbod wil laat werk, sal hy wetstoepassing in die onwettige deel van die drankmark moet verskerp, sê die bedryf.

In reaksie op die regering se kritiek dat drankverbruik tot ongelukke en aanrandings lei wat hospitale onnodig besig hou, sê die bedryf ’n beter benadering sou wees om op probleem-drankverbruik te fokus om langtermyn- en volhoubare verandering te bereik. Die huidige verbod het ’n aansienlik negatiewe ekonomiese impak en kon minder skade berokken het, maar met dieselfde verligting van die las op die gesondheidsorgstelsel.

Die bedryf meen ’n beter manier sou wees om ingrypings in te stel en beleid af te dwing om geslagsgeweld aan te pak, streng op te tree teen dronkbestuur en dronk voetgangers, met praktiese steun in samewerking met die departement van vervoer en die Padverkeersbestuurskorporasie en om teen onwettige drankhandel op te tree.

Die mense wat die ergste deur die verbod getref word, is die byna 1 miljoen werkers in die drankbedryf, en veral die kleiner drankhandelaars, wynkelders en taverne-eienaars.

Meer oor:  Cyril Rama­Phosa  |  Drank  |  Vlak 3  |  Drankbedryf  |  Drankverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.