Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Drankverbod in SA: Bierreus skryf $2,5 mjd. af

Anheuser-Busch InBev (AB InBev) het ’n enorme $2,5 miljard se klandisiewaarde afgeskryf weens die ontwrigting van sy produksie en verkope in Suid-Afrika in die tweede kwartaal.

SAB se produkte mag nie tans verkoop word nie. Foto: Kevin Sutherland, Bloomberg

Die bierreus sê daar is ’n 30%-kans dat die “slegste scenario” wat hy gemodelleer het vir drankverkope in dié land en die res van Afrika gaan realiseer.

AB InBev besit SAB, met produkte soos Castle, Black Label, Flying Fish en Brutal Fruit in sy stal, en verkoop gewoonlik ook onder meer Budweiser, Stella Artois en Corona in die land.

Die streng inperking in Suid-Afrika het ’n nege weke lange verbod op drankverkope sedert 27 Maart ingesluit, waarna verkope in Junie en die eerste twee weke van Julie toegelaat is voordat ’n tweede verbod ingestel is. Die drankbedryf onderhandel druk met die regering daaroor en wynboere het ook met 

LEES OOK: Wynbedryf verloor miljarde, duisende verloor werk

Inkomste en volume verkope in Suid-Afrika vir die kwartaal het met meer as 60% geval en in die hele eerste helfte van die jaar met dubbelsyfers (AB InBev spesifiseer nie met hoeveel nie). Verkope in Junie het gedui op ’n stewige herstel. Die volume verkope was in “hoë enkelsyfers”.

Afskrywing van klandisiewaarde

AB InBev het in Oktober 2016 $106 miljard vir SABMiller, sy grootste mededinger wêreldwyd, betaal. Klandisiewaarde is ’n bate op ’n maatskappy se boeke. Dit word bereken deur billike waarde van bates en laste van die maatskappy wat verkry word, af te trek van die koopprys. Dit word jaarliks hersien.

Die Covid-19-pandemie het ook wêreldwyd druk geplaas op bierverkope. Hoewel min lande ’n algehele verbod op drankverkope geplaas het, was restaurante en kroeë in die meeste lande vir minstens ’n maand gesluit en is dit heropen met streng perke op getalle.

’n Verbod of perke op groot byeenkomste, soos sportgeleenthede, nog ’n groot bron van inkomste vir drankmaatskappye, duur in die meeste lande voort.

In April, die maand waarin die meeste lande ’n vorm van inperking toegepas het, het bierverkope per volume met 32,4% gedaal vergeleke met April 2019. In Mei was die daling kleiner, maar steeds 21,1%, soos meer lande geleidelik hul inperkingsmaatreëls verlig het. In Junie was daar reeds herstel, hoewel die volume verkope net 0,7% hoër was.

Bierverkope in China was in Junie die hoogste tot dusver vir een maand.

Vir die hele kwartaal het AB InBev se volume verkope met 17,1% gedaal en inkomste met 17,7%. Bierpryse is dus in die kwartaal verlaag. Vir die halfjaar het volume met 13,4% gedaal en inkomste met 12%.

Anders as gewoonlik kan AB InBev nie spog met die verkope van sy “wêreldhandelsname”, Budweiser, Stella Artois en Corona, nie. Die inkomste van dié drie biere het in die tweede kwartaal met 16,6% geval en in die halfjaar met 14,1%.

Ab InBev se wins van $921 miljoen vir die tweede kwartaal was 60,3% laer as ’n jaar gelede. Vir die ses maande tot einde Junie was die wins net $76 miljoen, ’n hele 98,4% laer as in die eerste helfte van 2019.

AB InBev sê hy belê al jare lank in e-handelplatforms en digitale bemarking, maar dié tendens het die afgelope maande versnel.

Meer oor:  Ab Inbev  |  Sab  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Drankverkope  |  Drank  |  Bier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.