Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dringende aansoek teen drankreëls uitgestel

Die wynbedryfsliggaam Vinpro moet tot ná die naweek wag om sy saak teen die regering se landswye drankverbod voor die hof te stel.

drankverbod
Rakke vol wyn gaar stof op in drankwinkels weens die verbod op verkope wat minstens tot Sondag 11 Julie van krag is.

Sy dringende interdikaansoek sou Vrydag in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word, maar dis voorlopig tot volgende week uitgestel.

Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, het Donderdagmiddag in ’n verklaring gesê die regering se regsadviseurs het Vinpro se regspan genader en om uitstel gevra gegewe die kort tydjie wat hulle tot hul beskikking het.

Vinpro het Dinsdag sy interdikaansoek by die hooggeregshof ingedien.

“Ons het bevestiging van alle betrokke partye ontvang dat die saak as uiters dringend hanteer word. Ons wag nou op die bevestiging van die regter oor die finale datum waarop die saak volgende week aangehoor gaan word,” sê Basson.

“Dit sal die nasionale regering se respondente in staat stel om hul eedsverklarings oor die komende naweek in te dien, gevolg deur Vinpro se repliek as die aansoeker.”

Vinpro het saam met die Vereniging van Drankhandelsnaameienaars (Salba) Maandag ’n skrywe aan die regering gerig waarin hulle hul misnoeë uitspreek met die instelling van ’n algehele verbod op drankverkope sonder dat enige wetenskaplike bewyse bestaan wat wys só ’n regulasie het enige noemenswaardige uitwerking op die bekamping van infeksies met die koronavirus.

Ander rolspelers in die bedryf, soos die Nasionale Raad van Drankhandelaars en die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB), het ook hul stemme dik gemaak en aangevoer die regering is onregverdig teenoor die wettige drankbedryf, terwyl die sluikhandel nou net weer kans kry om voet in die hoek te sit en geld te maak uit verbruikers se soeke na drank.

Lucky Ntimane, sameroeper van die Nasionale Raad van Drankhandelaars, sê die regering gee nie om vir die meer as 1 miljoen mense wat van die drankbedryf afhanklik is vir hul brood en botter nie.

Die SAB het Woensdag gesê hy gaan óók ’n hofgeding teen die regering bring om die verbod stop te sit en te keer dat daar in die toekoms sonder enige deursigtigheid soortgelyke besluite geneem word.

Meer oor:  Vinpro  |  Covid-19  |  Drankverkope  |  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Wyn  |  Wynbedryf  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.