Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Droë kele kos Makro miljarde se drankverkope

Massmart, wat Makro besit, het in 2020 R4,1 miljard minder kos en drank as in 2019 verkoop.

’n Man dra handskoene terwyl hy inkopies doen in die Makro in Silver Lakes, Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die grootste deel is die verlies aan drankverkope, asook minder kosverkope in Massmart se winkels soos Cambridge Food en Rhino, wat op lae-inkomste-verbruikers fokus, het Mitch Slape, uitvoerende hoof, met die bekendstelling van die groep se jaarsyfers gesê.

Dié bedrag is die slagting wat die langdurige verbod en beperkings op drankverkope op die groep gehad het. Drank verteenwoordig 15% van Massmart se verkope, maar saam met kos is dit waaruit Massmart die meeste geld maak. In 2020 het kos- en drankverkope in Suid-Afrika saam R45 miljard beloop – meer as die helfte van Massmart se totale verkope van R85,6 miljard.

’n Algehele drankverbod is twee keer in 2020 ingestel en beperkte handelsure het vir die grootste deel van die res van die jaar gegeld. Dit was as deel van die regulasies om die verspreiding van Covid-19 te beperk en traumagevalle in hospitale te verminder.

Dividend

Massmart het die tweede agtereenvolgende jaar weens sy wesensverlies geen dividend uitgekeer nie.

Mohammed Abdool-Samad, finansiële hoof, wys daarop dat drankverkope net 33% van die jaar – dus sowat 120 dae – in gewone handelsure gedoen kon word.

Die kleinhandelreus, wat ook Game en Builders besit, het Maandag bekend gemaak dat hy in sy boekjaar tot einde Desember R7,2 miljard minder uit verkope as in 2019 gemaak het. Dis die totaal vir die 423 winkels in 13 lande in Afrika waarin hy sake doen.

Daarvan was die verlies aan kos- en drankverkope net in Suid-Afrika R4,1 miljard, oftewel 8,4% minder as in 2019.

R2,6 miljard, oftewel 7,2%, is minder aan duursame goedere (soos elektronika, huishoudelike toestelle en meubels) bestee. Dit is teen R33,5 miljard die tweede grootste bron van Massmart se verkope.

Die totale verkope van R85,6 miljard is 7,7% minder as in 2019; in vergelykbare winkels was die verkope 7,5% laer.

Die maatskappy moes weens die swak ekonomie R799 miljoen se waarde van sy bates afskryf.

In syfers

Die syfers vir Massmart se boekjaar tot einde Desember lyk as volg:

  • Totale inkomste daal met 7,5% tot R86,76 miljard
  • Verkope daal met 7,7% tot R86,5 miljard
  • Bruto wins daal met 0,5% tot R17,63 miljard
  • Bruto winsgrens verbeter met 147 basispunte tot 20,4%
  • Handelswins styg met 5,5% tot R1,17 miljard
  • Wesensverlies per aandeel verbeter met 19,3% tot -R4,27
Herstrukturering duur voort

Dit is die eerste volledige stel resultate wat uitgereik is sedert die 52-jarige Amerikaner Slape, wat afkomstig is van Massmart se moedermaatskappy, Walmart, die leisels opgeneem het.

Slape het in die middel van 2019 by Guy Hayward oorgeneem en het in Januarie 2020 ’n omvattende omkeerplan vir die groep aangekondig. Dit was voordat die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika uitgebreek het, maar die groep sê ondanks dié stok in die wiel het hy reeds 30 punte op sy omkeerplan deurgevoer en daardeur R600 miljoen bespaar.

Die omkeerplan het onder meer die sluiting van die 23 elektronikawinkels DionWired behels, asook die herstrukturering van Game, insluitend dat vars produkte nie meer in dié winkels verkoop word nie, maar klere wel. Sekere funksies, soos mensehulpbronne, is op groepvlak gesentraliseer.

Herstrukturering het die maatskappy R132,5 miljoen gekos.

Van die planne wat nog voorlê, is om 57 winkels van Cambridge Food, Rhino en Massfresh te verkoop. Dié winkels het nagenoeg 7 000 werknemers. Massfresh sluit The Fruitspot in.

Die groep gaan ook sy winkels buite Suid-Afrika aan ’n oorsig onderwerp.

Wins in verskillende afdelings

Die handelswins in verskillende Massmart-afdelings wys dat Builders en Makro goed vaar, maar Game en Cambridge Food ly verliese. Builders trek voordeel uit die tendens dat mense meer aan hul eiendomme bestee het in die jaar wat hulle meer tyd by die huis deurgebring het.

Builders het ’n rekordwins behaal, selfs al was dit ’n volle vyf weke van 2020 heeltemal gesluit en in April slegs deels oop.

Abdool-Samad wys daarop dat gewone mense, en nie konstruksie-ondernemings nie, die wins aangedryf het.

  • Makro: Handelswins styg met 2,2% tot R1,04 miljard.
  • Builders: Handelswins styg met 7,4% tot R1,03 miljard.
  • Game: Handelsverlies word 3,2% meer tot R523 miljoen.
  • Cambridge Food, Rhino en Masscash: Handelsverlies styg met 4,4% tot R364 miljoen.
  • Aanlyn verkope

    Soos ander kleinhandelaars het aanlyn verkope in die Massmart-groep se winkels teen 58,6% skerp gestyg. Dit het R1,1 miljard se verkope opgelewer.

    Die aantal unieke verbruikers wat aanlyn gekoop het, het met 72,9% opgeskiet.

    Klik-en-optel-bestellings het met 69,5% gestyg.

    Builders se aanlyn verkope het meer as verdubbel, met ’n styging van 111%, gevolg deur Game (77%) en Makro (40%).

    Aanlyn verkope verteenwoordig egter slegs 1,8% van verkope.

    Massmart het Sylvester John, voorheen van Walmart, pas as sy nuwe hoof van e-handel aangestel en John het groot planne om e-handel uit te brei.

    John sê mense wat aanlyn koop (vir aflewering of vir optel), bestee gemiddeld 2,65 keer meer as mense wat in winkels kom koop.

    Vooruitsigte

    Vir die eerste nege weke van die jaar (tot einde Februarie), was verkope 6,6% laer as in dieselfde nege weke van 2020. Massmart skryf dit toe aan die streng drankverbod wat tot 2 Februarie gegeld het, asook die feit dat staatskole eers op 15 Februarie heropen het.

    Mitch Slape, uitvoerende hoof van Massmart.

    “Ons verwag dat die onsekere bedryfsomgewing, geknelde finansiële gesondheid van verbruikers en die negatiewe uitwerking van die Covid-19-pandemie gaan voortduur.

    “Hoewel handel tans in al ons kategorieë toegelaat word, bly dit onseker of nuwe inperkings ingestel sal word.”

    Slape sê daar is bewyse van groen lote in die ekononie waaroor hulle versigtig optimisties is.

    Gegewe dat Massmart sy koste verlaag het, sy winsgrense aanpas en vol vertroue is dat sy omkeerplan sal slaag, meen Slape die groep is goed geplaas om voordeel te trek as die ekonomie begin herstel.

    Meer oor:  Mitch Slape  |  Drankverkope  |  Kleinhandelaars  |  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Kleinhandel  |  Koronavirus  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Covid-19
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.