Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dronkgeslaan? Trauma daal nié oor drankverbod

Die aandklokreël wat tydens die inperking ingestel is, is die grootste oorsaak van die daling in hospitaalopnames weens motorongelukke.

Dis die bevinding van ’n ontleding wat die drankbedryf laat uitvoer het.

Inligting waarna die regering gereeld verwys, het dié daling aan die drankverbod toegeskryf. Die regering het voorheen met die instel van die verbod op drankverkope aangevoer dis nodig omdat alkoholverwante ongelukke die druk op hospitale vererger wanneer Covid-19-gevalle op ’n piek is.

Die drankbedryf het Donderdag ’n verslag oor die statistiese ontleding oor dié inligting deur prof. Mike Murray, ’n medeprofessor aan die skool vir wiskunde, statistiek en rekenaarwetenskap van die Universiteit van KwaZulu-Natal, en Ian McGorian van Silver Fox Consulting, ’n firma wat spesialiseer in data-ontleding, aan die media uitgereik.

Die ontleding is deur die drankmaatskappy Distell gefinansier.

Wie betaal en wie doen die navorsing?

Die drankgroep Distell het die navorsing gefinansier.

Die ontleding is uitgevoer onder leiding van Ian McGorian, direkteur van Silver Fox Consulting, in samewerking met prof. Mike Murray van die Universiteit van KwaZulu-Natal se skool van wiskunde, statistiek en rekenaarwetenskap.

McGorian word beskryf as ’n onafhanklike data-kenner.

In die verslag getitel “A deep dive into the relationship between trauma admissions and locdown measures during the Covid-19 pandemic in South Africa” word gesê die portuurbeoordeling van die ontleding is deur prof. Graham Barr, emeritus professor in statistiese wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad, uitgevoer.

Betwis nie skade

Die jongste verbod van vier dae op drankverkope by drankwinkels oor die Paasnaweek, terwyl groter byeenkomste toegelaat is, het die drankbedryf finaal oortuig besluite word nie op bewyse gegrond nie.

Sibani Mngadi, voorsitter van die Vereniging vir Drankhandelsnaameienaars (Salba), sê dis van kritieke belang om ’n objektiewe ontleding te hê van die data wat gebruik word om sulke optrede te regverdig. Enige beperkings moet op bewyse gegrond wees.

’n Mens kan dit nie bloot ignoreer dat lande wat nie ’n drankverbod ingestel het, wesenlike dalings in trauma-gevalle tydens ’n inperking ervaar het nie.

Volgens hom toon die ontleding die aanname dat alkohol ’n hoofoorsaak van hospitaalopnames vir ongelukke is, word nie deur die data ondersteun nie.

Richard Rushton, uitvoerende hoof van Distell, sê die bedryf vra bloot dat die data objektief beskou word om ’n sinvoller gesprek met besluitnemers te bewerkstellig.

Bewyse wat staat gebruik

Murray en McGorian verwys in hul verslag na die gebruik van ’n grafiek wat die toelatings tot noodeenhede by vyf Wes-Kaapse hospitale gedurende die pandemie toon, tesame met ’n grafiek van die verskillende tye wat ’n drankverbod gegeld het.

beer
’n Statistiese model is gebruik om te bepaal watter impak twee veranderlikes – die drankverbod en die aandkloktyd – op hospitaalopnames vir ongelukke (trauma) het.

“Die feit dat ’n mens ’n verband kan sien tussen die twee word dan gebruik om die doeltreffendheid van die drankverbod te toon op die vermindering van trauma-opnames by die hospitale.

“Die bewering dat ’n drankverbod of beperkings op drankverkope die oorsaak is vir die daling in opnames vir ongelukke is nou stewig gevestig en word gereeld deur senior regeringsamptenare herhaal.”

Die navorsers sê omdat die regering ook nou praat van ’n “dringende behoefte” wat bestaan om bestaande wetgewing met betrekking tot die verkoop, bemarking en verbruik van drank te wysig, is dit noodsaaklik om te bepaal of daar werklik ’n duidelike oorsaaklike verband is tussen ’n drankverbod en opnames in die hospitaal.

Verbod nie enigste veranderlike

Murray en McGorian het ’n statistiese model gebruik om te bepaal watter impak twee veranderlikes – die drankverbod en die aandkloktyd – op hospitaalopnames vir ongelukke (trauma) het.

Hulle sê wanneer die beperkings op drankverkope op sy eie as veranderlike gebruik word, wil dit voorkom of dit op ’n statisties beduidende manier geassosieer word met ’n vermindering in trauma-gevalle.

“Dit is dié resultaat wat gebruik word om ’n drankverbod in die land aan te moedig.

“Maar daar moet egter aangedui word dat so ’n interpretasie aanneem dat daar geen ander veranderlikes is wat die verband tussen alkohol en opnames vir trauma kan verander nie.”

Wanneer die aandklokreël op sy beurt as die enigste verduidelikende veranderlike in die model ingevoer word, wil dit ook voorkom of dit op ’n statisties wesenlike wyse tot ’n daling in trauma-gevalle lei.

“ ’n Mens kan net tot die gevolgtrekking kom dat albei hierdie veranderlikes ten minste in ’n model ingevoer moet word om te bepaal wat die impak op trauma-gevalle is.”

Wanneer albei die veranderlikes ingevoer word, toon die resultate dat net die aandkloktyd statisties wesenlik is en dat die beperking op die verkope van drank as ’n faktor wegval.

“Dus, vanuit ’n statistiese perspektief, oorheers die aandkloktyd die beperking op drankverkope wanneer dit kom by ’n oorsaak vir die daling in die opnames in hospitale weens ongelukke.”

Hoe is die navorsing gedoen?

’n Eenvoudige lineêre regressiemodel is saamgestel.

Dis ’n statistiese metode waarmee die verband tussen veranderlikes bestudeer word.

Die een veranderlike is die voorspeller- (of verklarende of onafhanklike) veranderlike en die ander word as die respons- (uitkoms of afhanklike) veranderlike beskou.

In dié geval is hospitaalopnames vir ongelukke as die afhanklike veranderlike gebruik, terwyl alkohol- en aandkloktyd-beperkings as die potensiële verduidelikende veranderlikes gebruik is.

Fuif oor naweke

Die navorsers ontleed ook die stellings oor fuifdrink oor naweke en die impak op hospitaalopnames.

Voorleggings aan die regering het ook daarna verwys en die enigste oorsaak daarvan word voor die deur van drank gelê.

Hulle kom tot dieselfde gevolgtrekking wanneer die impak van sowel die aandklokreël as die drankverbod in ’n model ingevoer word.

Ander lande

’n Ontleding is ook oor ander lande se traumagevalle gedoen.

Suid-Afrika is nie die enigste land wat inperkingsmaatreëls ingestel het nie. Suid-Afrika is egter van die min lande wat ’n totale drankverbod ingestel het.

Volgens die navorsers is ’n skerp daling in trauma-opnames tydens die inperking in talle lande waargeneem waar daar nie ’n drankverbod of aandklokreël is nie.

“ ’n Mens kan dit nie bloot ignoreer dat lande wat nie ’n drankverbod ingestel het, wesenlike dalings in trauma-gevalle tydens ’n inperking ervaar het nie.”

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Bier  |  Koronavirus  |  Bierbrouerye  |  Restaurante  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Kroeë  |  Drankverkope  |  Bierbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.