Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), sal eersdaags hoor of sy lewenslank as misdadige direkteur verklaar gaan word.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), toe sy vir die eerste keer in die hooggeregshof in Pretoria verskyn het. Foto: William Horne
Stefanie Fick, hoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) se regsdienste, meen egter Myeni het nie baie goed gevaar onder kruisondervraging deur adv. Caroline Steynberg SC nie.
“Sy het dikwels gevou onder die druk,” sê Fick aan Netwerk24.
Regter Ronel Tolmay het Vrydag haar uitspraak voorbehou omdat daar nie transkripsies van die hofverrigtinge was nie.
Adv. Nqabayethu Buthelezi SC, vir Myeni, en Steynberg wag ook op die transkripsies sodat hulle aanvullende hooftrekke van hul betogings kan indien nadat die slotargumente Vrydag afgehandel is.
Tolmay het Vrydag gesê sodra sy die aanvullende hooftrekke saam met die transkripsies ontvang, sal sy hopelik binne ’n week daarna haar uitspraak kan lewer.
Fick sê Outa het al in die eerste week van die hofverrigtinge op 20 Februarie begin vra vir transkripsies, maar daar is nog geen aanduiding van wanneer hulle dit gaan kry nie.
Outa is wel baie tevrede met die verloop van die saak.
Waar Myeni in haar eie getuienis baie “voorspelbaar” was in hoe sy haarself verdedig het, het sy gesukkel onder die kruisondervraging wat tot 26 Februarie geduur het, sê Fick.
Sy is tevrede met Outa se werk. “Ons het gedoen wat ons gesê het ons gaan doen en is vol vertroue oor die uitkoms van die saak.”
Outa vra nou dat Myeni lewenslank as misdadige direkteur verklaar word en nie net vir die standaard van sewe jaar nie. As sy as misdadige direkteur verklaar word, sal sy nie verder in direksies kan dien nie.
Myeni dien steeds in verskeie direksies waarvoor sy betaling kry.
As sy skuldig bevind sou word, sal Myeni nie meer dié geld kan verdien nie omdat sy dadelik uit die direksies sal moet bedank.