Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dudu Myeni in die hof – uiteindelik!

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het Donderdag vir die eerste keer opgedaag vir die hofsaak waarin aansoek gedoen word om haar tot misdadige direkteur te laat verklaar.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugddiens, Donderdag in die hooggerregshof in Pretoria.Foto: William Horne

Die hofaansoek, wat deur die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die SAL-Vlieëniersvereniging (Saapa) gebring is, sloer al bykans vyf maande om in Myeni se afwesigheid aan die gang te kom. Dis al vier keer deur haar regspan vertraag.

Outa het die oorspronklike hofaansoek reeds in 2017 gebring. Outa sukkel sedertdien onverpoos om Myeni, ’n vertroueling van oudpres. Jacob Zuma, te laat vervolg.

Outa sê Woensdag in ’n verklaring dat Myeni se regspan slegs één getuie gelys het vir haar verdediging nadat Outa en Saapa se regspan vroeër die week hul argumente gesluit het: Myeni self.

Tot dusver het Myeni aangevoer dat sy te arm is om die vervoergeld tot by die hooggeregshof in Pretoria te bekostig. Sy het dus nog alle vorige hofdatums misgeloop.

Volgens Outa het Myeni in 2019 op 13 direksies gedien. As sy tot misdadige direkteur verklaar word, sal sy nie meer op enige direksie in die land mag dien nie.

Regter Ronel Tolmay het in Desember drie aansoeke van Myeni se regspan van die hand gewys. Sy wou haar pleit verander, al die direkteure wat saam met haar op die SAL-direksie was by die saak insluit, en het ’n bevinding gevra dat Outa nie voldoende belang by die saak het om die aansoek te mag bring nie.

Dudu Myeni, voormalige SAL-voorsitter, keer vir die flits van ’n joernalis se kamera in die hooggeregshof in Pretoria.Foto: William Horne

Myeni het laat in Januarie aansoek gedoen om appèl teen dié uitsprake. Tolmay het dit ook op 28 Januarie met koste van die hand gewys.

Adv. Caroline Steynberg, SC, vir Outa en Saapa het sedert 27 Januarie aangevoer hoekom Myeni tot misdadige direkteur verklaar moet word.

Myeni is ál getuie wat die hof vanaf haar regspan, gelei deur adv. Nqabayethu Buthelezi, SC, verwag.

Onder Myeni se voorsitterskap het die SAL tussen Desember 2012 en Oktober 2017 ’n verlies van R16,84 miljard gely nadat die lugdiens vanaf 2009-’12 winsgewend was. Sedertdien het die SAL verskeie reddingsboeie van die staat ontvang bloot om aan die gang te bly en dis op 5 Desember in sakeredding geplaas.

Die ses kernbewerings wat Outa en Saapa teen Myeni gemaak het, is:

  • Die besluit van die SAL-direksie onder voorsitterskap van Myeni om BnP Capital in April 2016 as transaksieraadgewer aan te stel, was onwettig.
  • Die direksie se besluit om in Mei 2016 dié ooreenkoms uit te brei deur BnP te kontrakteer om finansiering van R15 miljard vir die SAL te bekom, was onwettig, veral in die lig daarvan dat BnP in daardie stadium nie ’n lisensie gehad het om as finansiëlediensteverskaffer op te tree nie.
  • Die direksie se besluit in Julie 2016 om kansellasiegeld van R49,9 miljoen aan BnP te betaal, was onwettig.
  • Myeni het in Junie 2015 onwettig ingemeng toe sy ’n winsgewende ooreenkoms tussen die SAL en Emirates gekeer het. Sy het toe aangevoer dat Zuma gesê het hy is bekommerd oor die transaksie.
  • Myeni het in 2013 onwettig ingemeng by die kontrak met Airbus om 20 nuwe A320-200-vliegtuie aan die lugdiens te verskaf.
  • Myeni en die direksie het EY se verslag in Desember 2015 wat gewys het dat daar beduidende probleme in die SAL was ten opsigte van verkryging en kontrakbestuur, geïgnoreer.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.