Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dudu Myeni mag nooit weer ’n direkteur wees

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het Dinsdag gehoor sy mag nié appelleer teen haar verklaring tot misdadige direkteur nie.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL. Foto: Argief

“Dít is so na aan regsfinaliteit as wat ons tans kan kom,” sê adv. Stefanie Fick, uitvoerende direkteur van die afdeling vir verantwoordbaarheid by die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), aan Netwerk24.

Die appèlhof het Dinsdag beslis dat Myeni se aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys word omdat “daar geen redelike vooruitsig is op sukses in ’n appèlsaak nie en daar geen ander dwingende rede is waarom ’n appèl aangehoor moet word nie”.

Myeni is op 27 Mei 2020 tot misdadige direkteur verklaar deur regter Ronel Tolmay van die hooggeregshof in Pretoria.

Outa en die SAL-Vlieëniersvereniging (Saapa) het reeds in 2017 ’n aansoek hieroor by die hof ingedien, maar dis keer op keer deur Myeni se regspan vertraag.

Myeni het ná die beslissing gesê sy wil appèl aanteken, wat normaalweg die toepassing van die bevel sou opskort.

Outa het egter later in 2020 aansoek gedoen vir die tussentydse bekragtiging van die bevel om haar tot misdadige direkteur te verklaar sodat sy nie tydens die appèlproses “verdere skade kan aanrig” in die direksies waarin sy nog gedien het nie.

Outa het dié saak in Desember 2020 gewen en Myeni is, ten spyte van haar appèlaansoek, verbied om langer in enige direksie te dien.

Kragtens Tolmay se beslissing word Myeni lewenslank verbied om weer in enige direksie te dien. Normaalweg geld so ’n verbod net vir ’n sekere aantal jare.

Myeni het haar aansoek tot appèl laat ingedien en moes toe eers aansoek doen om kondonasie sodat sy wel appèl kon aanteken.

Dit is toegestaan, maar die appèlhof het toe in elk geval verlof tot appèl geweier, nes ’n volbank regters van die hooggeregshof in Desember.

“Outa is natuurlik verheug,” sê Fick. “Ons het lank en hard gewerk en glo dit is ’n oorwinning vir die burgerlike samelewing en ’n baanbrekersaak.”

Ook Saapa is baie tevrede met die uitslag. “Myeni (wat van 2012 tot 2018 voorsitter van die SAL-direksie was) het ’n belangrike rol gespeel in die finansiële ondergang van die SAL, wat uiteindelik daartoe gelei het dat dit in sakeredding geplaas is. Haar misdadige optrede het ’n belangrike rol gespeel in die ineenstorting van die lugdiens, wat gelei het tot die aflegging van duisende SAL-werknemers,” sê Saapa.

“Dit is opmerklik dat dit die burgerlike samelewing (Outa) en ’n arbeidsorganisasie (Saapa) geneem het om in te gryp om die misdadigheid van die voormalige SAL-voorsitter te stop en haar verantwoordelik te hou.”

Myeni se enigste opsie

Fick verduidelik dat Myeni se enigste oorblywende opsie nou is om die konstitusionele hof te nader.

“Ek kan nie sien hoe sy ’n konstitusionele saak hiervan kan maak nie,” sê Fick egter.

Om dit te kan doen, sal Myeni moet bewys dat haar saak grondwetlike regte betrek.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ondersoek ook die saak nadat Myeni tot misdadige direkteur verklaar is.

“Dis die einde van die pad vir Myeni,” sê Fick.

Volgens die opgawes van die Kommissie vir Intellektuele Eiendom en Maatskappye (CIPC) het Myeni op 30 Oktober 2020 bedank as direkteur van die Mangaung-metro se elektrisiteitsentiteit, Centlec, hoewel die inligting eers in Desember bygewerk is.

Sy word egter steeds as direkteur van die Jacob Zuma-stigting aangetoon.

Nadat Outa en Saapa die tussentydse opdwingingsbevel gewen het, het hulle geskryf aan die Jacob Zuma-stigting, Hope Fountain Investments 54 en Orestitrix, die drie ondernemings waarvan Myeni steeds as ’n aktiewe direkteur aangetoon word en geëis dat sy kragtens die hofbevel as direkteur verwyder word.

Geen antwoorde is ontvang nie.

Luidens inligting van die CIPC is al drie entiteite egter in die proses van deregistrasie.

Wie is volgende?

Outa draai nie doekies om nie. Hy is nou op die spoor van nóg beweerde staatskapers wat tot dusver vervolging gesystap het om hulle tot misdadige direkteure te laat verklaar.

Die saak teen Myeni het vier jaar geduur, maar Outa meen dit was die moeite werd om seker te maak sy mag nooit weer by enige entiteit – staatsonderneming, private onderneming of organisasie sonder winsbejag – as direkteur dien nie.

Volgende op die lys is die omstrede Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet en Eskom wat vandeesweek voor die Zondo-kommissie na staatskaping getuig en na wie die vinger telkens gewys word as iemand wat sentraal gestaan het in die Gupta-familie se pogings om veral staatsondernemings te plunder.

Outa sê ook Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Transnet en Eskom, is in sy visier.

Outa het reeds stappe teen die twee begin doen. Hy het in 2017 ’n klag teen Singh ingedien by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica), wat hom uiteindelik in Augustus 2020 van die rol geskrap het.

In Augustus 2017 het Outa afsonderlike strafregtelike aanklagte teen albei by die polisie ingedien. Dit lyk egter nie of daar tans enige beduidende vordering in hierdie sake is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.