Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dudu Myeni se verhoor begin uiteindelik
KEMPTON PARK, SOUTH AFRICA â?? OCTOBER 28: SAA Cha
Dudu Myeni (Foto: Gallo Images / Rapport / Deon Raath)

Bykans drie jaar nadat daar by die hooggeregshof in Pretoria aansoek gedoen is dat Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), tot misdadige direkteur verklaar word, het dié verhoor Woensdag uiteindelik begin.

Die aansoek is deur die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) ingedien.

Dit kom nadat regter Ronel Tolmay beslis het dat die saak moet voortgaan, selfs al wil Myeni nou die appèlhof nader om teen Tolmay se uitsprake te appelleer.

Tolmay het in Desember drie aansoeke van Myeni van die hand gewys. Sy wou toe haar pleit verander, al die direkteure wat saam met haar op die SAL-direksie was by die saak insluit en het ’n bevinding gevra dat Outa nie locus standi het nie, met ander woorde nie voldoende belang by die saak het om die aansoek te mag indien nie.

Sy het egter nie dieselfde aansoek teen Saapa ingedien nie.

Myeni het laat vandeesmaand aansoek gedoen om appèl teen dié uitsprake. Tolmay het dit Dinsdag met koste van die hand gewys.

Adv. Nqabayethu Buthelezi SC, vir Myeni, het Dinsdag gevra dat die saak uitgestel word sodat sy kliënt by die appèlhof teen Tolmay se uitsprake kan appelleer.

Tolmay het dit Woensdag baie duidelik gestel dat sy nie verder “moeite gaan doen” om Myeni te akkommodeer nie en dat sy nie “enige verdere vertragings gaan duld nie”.

Adv. Caroline Steynberg SC, vir sowel Outa as Saapa, kon kort daarna met haar openingsbetoog begin.

Die ses kernbewerings wat Outa maak, is:

  • Die besluit van die SAL-direksie onder voorsitterskap van Myeni om BnP Capital in April 2016 as transaksieraadgewer aan te stel, was onwettig.
  • Die direksie se besluit om in Mei 2016 dié ooreenkoms uit te brei om BnP te kontrakteer om finansiering van R15 miljard vir die SAL te bekom, was onwettig, veral in die lig daarvan dat BnP in daardie stadium nie ’n lisensie gehad het om as finansiëlediensteverskaffer op te tree nie.
  • Die direksie se besluit in Julie 2016 om kansellasiegeld van R49,9 miljoen aan BnP te betaal, was onwettig.
  • Myeni het in Junie 2015 onwettig ingemeng toe sy ’n winsgewende ooreenkoms tussen die SAL en Emirates gekeer het. Sy het aangevoer dat oudpres. Jacob Zuma gesê het hy is bekommerd oor die transaksie.
  • Myeni het in 2013 onwettig ingemeng by die kontrak met Airbus om 20 nuwe A320-200-vliegtuie aan die lugdiens te verskaf.
  • Myeni en die direksie het Ernst & Young se verslag in Desember 2015, wat gewys het dat daar beduidende probleme in die SAL was ten opsigte van verkryging en kontrakbestuur, geïgnoreer.

Steynberg het Woensdag die verhoor begin deur gebeure ten opsigte van die Emirates-ooreenkoms aan die hof voor te lê.

LEES OOK: BnP Capital sal sê oor SAL-ooreenkoms

Adv. Stephanie Fick, regsverteenwoordiger van Outa, het Dinsdag aan Netwerk24 gesê Tolmay se beslissing dat die saak moet voortgaan “is ’n oorwinning vir die burgers van Suid-Afrika”.

Myeni was Woensdag, net soos voorheen, nie in die hof nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.