Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dudu Myeni tronk toe? NVG het ‘saak op skinkbord’
Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, word uiteindelik deur tronkstraf in die gesig gestaar, meen die Organisasie teen Belastingmisbruik. Foto: Argief

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het ’n strafsaak “op ’n skinkbord ontvang” van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) toe Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Woensdag lewenslank tot misdadige direkteur verklaar is.

Myeni, wat haarself as “werkloos” beskryf, dien nog in minstens vier direksies wat sy voortaan sal moet verlaat.

“Dit is die eerste oorwinning in die hof teen ’n staatskaper, en die eerste in sy soort teen ’n direkteur van ’n staatsonderneming,” het Stefanie Fick, hoof van Outa se regsdienste, Donderdag aan Netwerk24 gesê.

“Daar is ’n nuwe energie in die organisasie en die land dat dit wel moontlik is om staatskapers aanspreeklik te hou.

“Ons is gretig om die volgende een te takel; daar is so baie van hulle.”

Regter Ronel Tolmay het Woensdag in haar uitspraak die NVG beveel om die moontlikheid van strafregtelike vervolging teen Myeni te ondersoek.

Lees ook: Myeni is ’n misdadige direkteur, beslis hof

Indien sy in so ’n saak skuldig bevind word, sal sy nie net haar werk in alle direksies verloor nie, maar moontlik ook tronk toe moet gaan.

Volgens dr. Llewellyn Curlewis, strafregkenner, gee ’n regter nie so ’n bevel as daar nie klaarblyklike gronde is vir die strafregtelike vervolging ná ’n siviele saak nie.

Om tot misdadige direkteur verklaar te word, is volgens Curlewis ’n groot genoeg oortreding van die Maatskappywet dat daar beslis bewyse is vir strafregtelike oortredings ook.

Fick sê die Maatskappywet maak voldoende voorsiening vir strafregtelike vervolging ingevolge dié wet self.

“Ons het basies ’n saak op ’n skinkbord gegee vir die NVG,” sê Fick.

Maar Curlewis waarsku wel dat die NVG nie gedwing kan word om ’n saak teen Myeni te maak nie.

Waar is die NVG?

Vir Fick is die groot vraag: “Waar is die NVG?”

Sy sê Outa het al lankal strafregtelike klagte teen Myeni en verskeie ander voormalige direkteure van die SAL by die NVG ingedien.

Ondersoeke deur die Valke is egter steeds nie afgehandel nie en dus het die NVG nog glad nie met ’n vervolging teen Myeni begin nie.

Bongani Nkasana, verteenwoordiger van die sakeredders van die SAL, het Woensdagaand in ’n voorlegging aan die parlement se staande komitee oor toewysings gesê die Spesiale Ondersoekeenheid is nog besig met sy ondersoek na die SAL.

Maar ondersoeke sloer al jare lank sonder dat die NVG begin met vervolging.

“Nog niemand anders is al in die hof aanspreeklik gehou vir staatskaping nie,” sê Fick.

Aan die een kant is dit vir Outa betreurenswaardig dat ’n burgerregteorganisasie die saak in die eerste plek teen Myeni aanhangig moes maak en nie die NVG self nie.

Maar aan die ander kant is Fick bemoedig deur die feit dat die Suid-Afrikaanse demokrasie dit moontlik maak vir organisasies soos Outa om self die leisels op te neem en staatskapers te vervolg.

“Maar staatskaping wen tans steeds,” sê Fick.

Nog niemand anders is al in die hof aanspreeklik gehou vir staatskaping nie.
Stephanie Fick

Volgens Bulelwa Makeke, woordvoerder van die NVG, het hulle Tolmay se uitspraak ontvang. Die NVG ontleed dit nog.

Curlewis sê as die NVG besluit om haar nie te vervolg nie, is daar wel steeds hoop.

Enige landsburger of organisasie kan opnuut strafregtelike klagte by die polisie indien, wat dan ’n antwoord van die NVG sal verg.

As die NVG sê hy gaan haar nie vervolg nie, kan ’n sertifikaat van hom gekry word waarop hy dit bevestig. Dan kan Outa of enigiemand anders private strafregtelike vervolging teen Myeni instel.

Fick sê Outa sit oorgehaal om die saak verder te neem, maar hoop van harte dat die NVG wel nou sal optree.

Volgens Fick is dit duidelik dat strafregtelike vervolging nodig is, omdat Tolmay “dit duidelik gestel het dat daar iets meer sinister aan die gang was” met Myeni se bewind as die SAL-voorsitter.

Tolmay het in haar uitspraak verwys na Myeni se versuim om selfs “basiese bekwaamheid of kennis van haar veld te toon”.

Uitspraak verwelkom
Die Instituut van Direkteure in Suid-Afrika (IoDSA) het Donderdag Tolmay se uitspraak verwelkom en gesê dit wys hoe belangrik dit is dat direkteure bekwaam is en nie sommer net aangestel word om posisies te vul nie.
“Die verreikende uitspraak van regter Tolmay is om verskillende redes tydig omdat dit uiteindelik die IoDSA se jare lange bewering in die hof toets dat direkteure hulself behoorlik moet inlig oor die aard en omvang van hul pligte, of andersins hulself in gevaar stel,” sê adv. Fay Mukaddam, direkteur van die IoDSA.
Parmi Natesan, uitvoerende hoof van die IoDSA, benadruk dat die Myeni-saak wys hoe belangrik dit is vir organisasies om geskikte, gekwalifiseerde persone in die direksies aan te stel, en om te verseker dat hulle op hoogte bly van die nuutste denke en gereeld beoordeel word.
In die uitspraak sê Tolmay: “Om in die direksie van ’n staatsonderneming te dien, behoort nie ’n voorreg van diegene met politieke bande te wees nie.
“As bewaarders van die openbare belang, het die regering ’n verpligting om te verseker dat gekwalifiseerde mense met integriteit in die posisies aangestel word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.