Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dudu Myeni van SAL-faam weer in die hof
Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) vroeër vanjaar in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: William Horne

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), is opnuut in die hof om aansoek te doen om verlof tot appèl teen die beslissing wat haar tot misdadige direkteur verklaar het.

Myeni het Donderdag uit die bloute twee aansoeke by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.

Die een is ’n tussenaansoek om nuwe bewyse in te dien in die saak waarin sy in Mei tot misdadige direkteur verklaar is en die tweede ’n amptelike aansoek om verlof tot appèl teen dié beslissing.

Die verrigtinge het egter nie vir haar op ’n goeie noot afgeskop nie.

Regter Ronel Tolmay het dit duidelik gestel dat sy uiters ontevrede is dat sy via die media uitgevind het dat Myeni wil appelleer eerder as in amptelike hofstukke wat betyds ingedien is, berig Heidi Giokos vir eNCA op Twitter.

Stefani Fick, regshoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), wat die saak teen Myeni reeds in 2017 saam met die SAL se Vlieëniersvereniging (Saapa) aanhangig gemaak het, sê dit is ’n mallemeule in die hof.

Outa het self nou twee aansoeke ingedien.

Volgens Fick dring Outa daarop aan dat die bevel wat Myeni tot misdadige direkteur verklaar het, ten spyte van die aansoek om verlof tot appèl bekragtig word.

Ingevolge art. 18(3) van die Wet op die Hooggeregshof mag partye aansoek doen dat ’n bevel van krag word, selfs al is daar ’n appèlaansoek.

Fick sê hul tweede aansoek is daar ingeval die eerste misluk.

Outa sal aanvoer dit is ongrondwetlik dat Myeni haar verklaring tot misdadige direkteur systap deur weer eens die howe te probeer verlam met aansoeke wat nie sin maak nie.

Myeni het hofverrigtinge twee jaar lank vertraag nadat Outa en Saapa hul aansoek in 2017 ingedien het. Die aansoek is einde 2019 vir die eerste keer aangehoor, en is wéér deur Myeni tot vroeg 2020 vertraag.

Die verhoor het uiteindelik in haar afwesigheid begin nadat Tolmay gesê het dit is onaanvaarbaar dat Myeni die verrigtinge so ontwrig.

Die verrigtinge is Donderdag om 12:00 verdaag en sal later Donderdagmiddag hervat word wanneer betoë aangehoor sal word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.