Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dudu Myeni van SAL-faam weer sonder prokureur

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) sukkel al drie jaar om Dudu Myeni, ’n vertroueling van oudpres. Jacob Zuma en ’n vorige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), as nalatige direkteur verklaar te kry.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL se direksie. Foto: Deon Raath

Die drukgroep se jongste terugslag is die nuus dat Myeni se prokureur, Lugisani Daniel Mantsha, hom aan die saak onttrek het, skaars twee weke voordat dit op 7 Oktober in die hooggeregshof in Pretoria sou begin.

Mantsha tree nog nie eens ’n maand vir Myeni op nie, en het voorheen probeer om die saak uit te stel op grond daarvan dat hy nie gereed was nie, blyk uit ’n mediaverklaring wat Outa Maandag uitgereik het.

Mantsha het egter intussen ’n kennisgewing aan Outa en die Suid-Afrikaanse Lugdiensvlieëniersvereniging (Saapa) se regsverteenwoordigers gestuur en gesê hy onttrek hom aan die saak, “want ons het geen finansiële instruksie nie”.

Dit is nie die eerste keer dat Myeni van regsverteenwoordiger verander nie. Die regsfirma ENS het in Junie besluit dat hy Myeni nie verder verteenwoordig nie.

Myeni was van Desember 2012 tot Oktober 2017 die voorsitter van die SAL se direksie. Die hofdatum vir die aansoek was aanvanklik 28 Februarie verlede jaar.

Adv. Stefanie Fick, regshoof van Outa, sê hulle het voorberei vir die hofsaak om Myeni ingevolge die Maatskappywet as nalatige direkteur verklaar te kry, maar dit lyk asof daar ’n “Stalingrad-taktiek” gebruik word met die rotasie van Myeni se regsverteenwoordigers.

“Ons vertrou die hof sal seker maak die saak word nie vertraag omdat sy onvoorbereid is nie.”

Outa het al in Maart 2017 die hofaansoek ingedien om Myeni as nalatige direkteur te verklaar. Dit was ná die mislukte transaksie van R256 miljoen tussen die SAL en die maatskappy BnP Capital, wat vir die lugdiens skuldfinansiering van R15 miljard moes kry. Daar is bevind die regte prosedures vir die aanstelling van BnP is nie gevolg nie.

In getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het dit aan die lig gekom hoe Myeni druk op SAL-bestuurders uitgeoefen het om tenders toe te laat waarin die regte wetlike prosedures nie gevolg is nie.

Myeni se naam het ook opgeduik in die parlementêre ondersoek na staatskaping by Eskom, waar ’n voormalige voorsitter van Eskom getuig het sy het hom een keer gevra om met Zuma te vergader oor aanstelling van topbestuurders by Eskom. Ondanks herhaalde uitnodigings en versoeke het Myeni nooit opgedaag om in die openbare sittings oor staatskaping by Eskom te getuig nie.

As iemand as ’n nalatige direkteur verklaar word, kan die persoon nie weer aangestel word as ’n direkteur van ’n maatskappy nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.