
Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL. Foto: Argief
Bykans twee weke later wag die hooggeregshof in Pretoria steeds op belangrike dokumente voordat ’n uitspraak gelewer kan word oor of Dudu Myeni lewenslank as misdadige direkteur verklaar gaan word, of nie.
Stefanie Fick, hoof van regsdienste van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), sê Donderdag aan Netwerk24 dat daar nog geen teken is van ’n uitspraak deur regter Ronel Tolmay nadat sy haar uitspraak op 28 Februarie voorbehou het nie.
Outa het saam met die SAL-Vlieëniersvereniging (Saapa) die saak teen Myeni, voormalige voorsitter van die SAL, gebring.
Fick sê sowel Outa as Myeni se regspanne moet aanvullende hooftrekke van hul betogings indien, maar kan dit nog nie doen nie aangesien uiters belangrike transkripsies van die hofsaak nog nie beskikbaar gemaak is nie.
Dit is onduidelik wat die vertraging veroorsaak, maar Fick sê dit is hoogs ongewoon.
Wanneer die transkripsies beskikbaar word, sal albei partye hul aanvullende hooftrekke finaliseer en indien.
Tolmay het met die afsluiting van die hofsaak op 28 Februarie aangedui sy sal ’n week nadat sy die regspanne se aanvullende hooftrekke ontvang het, haar uitspraak kan lewer, maar sy wag self op die transkripsies van ’n saak wat baie ingewikkeld was.
Outa en Saapa het reeds in 2017 hul hofaansoeke ingedien, maar dit is keer op keer met probleme vertraag totdat die saak uiteindelik aan die einde van 2019 kon begin.
Myeni het wel vier keer die saak laat uitstel en was eers in Februarie vir die eerste keer in die hof teenwoordig.
Onder Myeni se voorsitterskap het die SAL tussen Desember 2012 en Oktober 2017 ’n verlies van R16,84 miljard gely, nadat die lugdiens van 2009 tot 2012 nog winsgewend was.
Sedertdien het die SAL verskeie reddingsboeie van die staat ontvang, bloot om aan die gang te bly, en is op 5 Desember in sakeredding geplaas.