Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dudu Myeni wen sowaar nóg ’n uitstel
Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se direksie. Foto: Deon Raath

Die hofsaak om Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), tot misdadige direkteur te laat verklaar, is wéér uitgestel.

Myeni se regspan het Maandag ’n reeks nuwe hofaansoeke gebring wat dit, volgens regter Ronel Tolmay, onmoontlik gemaak het om voort te gaan met die verhoor sonder dat dit moontlik onbillik kon word.

Maar al is die argumente van Myeni se regspan regstegnies regverdigbaar, het Tolmay nie weggesteek hoe min sy daarmee saamstem nie.

Die verhoor sal nou eers in Januarie 2020, wanneer die hooggeregshof weer ná ’n reses begin, hervat word.

Tolmay het egter gesê dat daar vanaf 25 November tot 6 Desember hofverrigtinge moet wees waarin haar regspan álle aansoeke en wysigings wat hulle beplan, moet opper. Dit sal Myeni se enigste kans wees om haar saak te stel oor hoe die hofsaak moet verander, want daarna moet die verhoor kan begin.

Adv. Nqabayethu Buthelezi, SC, vir Myeni, het Maandagoggend onder meer aangevoer dat haar pleit gewysig moet word, wat beteken die verhoor sou nie soos beplan kon voortgaan nie.

Hy het ook gewaarsku dat hy ’n onbepaalde tyd nodig sal hê om ook al die ander direkteure van die SAL tot die hofsaak te voeg.

Volgens Buthelezi is daar geen gronde daarvoor om Myeni “uit te sonder” wat die beweerde wanbestuur van die SAL betref nie.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), wat die saak teen Myeni saam met die SAL-vlieëniersvereniging aanhangig gemaak het, wil haar tot misdadige direkteur laat verklaar sodat sy nie weer op enige direksie mag dien nie. Sy dien tans op sowat 13 direksies, volgens Outa.

Onder Myeni se voorsitterskap het die SAL tussen Desember 2012 en Oktober 2017 ’n verlies van R16,84 miljard gely nadat die lugdiens van 2009-’12 winsgewend was. Sedertdien het die SAL verskeie reddingsboeie van die staat ontvang bloot om aan die gang te bly.

Tolmay moes die saak ook al drie keer tevore vir Myeni uitstel nadat die oorspronklike hofaansoek teen haar reeds in 2017 ingedien is.

Meer oor:  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Dudu Myeni  |  Jacob Zuma  |  Zuma  |  Hofsaak  |  Afdanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.