Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dudu veg vir haar inkomste in nóg 'n hofsaak

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), is Maandag weer in die hof om te veg teen ’n bevel wat haar van die reg om in enige direksie te dien ontneem, sowel as van haar inkomste.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se direksie. Foto: Gallo Images

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) staan haar jongste aansoek in die hooggeregshof in Pretoria teen.

Myeni se aansoek is ’n “noodaansoek” voor ’n volbank regters om ’n bevel van 22 Desember verlede jaar teen haar om te keer.

Toe is bevind dat Myeni, ongeag ’n appèlproses teen ’n bevinding in Mei wat haar tot misdadige direkteur verklaar, nie as direkteur van enige maatskappy of organisasie in Suid-Afrika mag dien nie.

’n Tussentydse bevel is op 22 Desember deur regter Ronel Tolmay toegestaan nadat Outa en die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) aansoek gedoen het dat Myeni verbied word om in direksies te dien, al appelleer sy teen die Mei-hofuitspraak.

Gewoonlik word die aanvanklike bevel teen ’n applikant deur ’n appèlaansoek opgeskort, maar nie as ’n regter ’n tussentydse bevel toestaan nie.

Myeni voer aan dat sy nie meer ’n direkteur in die direksie van enige staatsonderneming is nie. Dit sluit in dié van Centlec, die Mangaung-elektrisiteitsverspreider.

Myeni sê haar ampstermyn in die Centlec-direksie het in November 2020 geëindig, en daar is dus geen “openbare belang” vir ’n afdwingingsbevel teen haar nie.

Myeni voer ook aan dat haar inkomstebron sal opdroog as sy uit die direksies van ander maatskappye verwyder word terwyl haar hoofappèl aan die gang is.

Sy dien tans nog in drie direksies, waarvan een die Jacob Zuma-stigting is.

Tolmay het ook op 22 Desember Myeni se aansoek om verlof tot appèl teen haar status as misdadige direkteur van die hand gewys.

Myeni het aangedui dat sy haarself nou tot die appèlhof sal wend vir haar hoofappèlaansoek. Maar sy het nog nie haar amptelike appèlaansoek ingedien nie.

Haar advokate het die sperdatum vir die indiening van hierdie aansoek misgeloop, en daarom het hulle ’n aansoek om kondonasie van laat indiening ingegee.

’n Deel van hul verklaring vir laat indiening was dat hulle probleme gehad het om dokumente aan die SAL en AirChefs voor te lê weens die opskorting van die sakebedrywighede van die SAL omdat werknemers afgelê is of nie meer by die werk is nie.

“ ’n Lewenslange verbod wat deur die hof ingestel is, is ongekend in Suid-Afrika en onder die omstandighede ongegrond,” sê Thomas Sibuyi, Myeni se prokureur, in ’n beëdigde verklaring.

Outa en Saapa glo dat Myeni se versuim om die appèlaansoek betyds by die appèlhof in te dien nie in haar guns sal tel nie.

“Myeni se vooruitsigte het versleg. Haar versuim om die versoekskrif betyds in te dien, beteken dat sy ’n opdraande stryd gaan voer om die appèlhof te oortuig om haar verlof tot appèl toe te staan,” sê adv. Stefanie Fick, die uitvoerende direkteur van Outa se afdeling vir aanspreeklikheid.

Myeni het teen Vrydag ook nog nie haar betooghoofde vir Maandag se hofsaak ingedien nie. Dit moes op 2 Februarie ingedien geword het.

“Dit is die eerste keer dat Myeni aanspreeklik gehou word vir haar optrede by die SAL,” sê adv. Carol Steinberg SC, in haar argumente vir Outa en Saapa.

“Myeni het alles in haar vermoë gedoen om hierdie uitslag te belemmer en het gedurende die verhoor herhaaldelik so opgetree om sake te vertraag en te ontwrig. Sy wil die werking van ’n bindende bevel vertraag. Sy het geen proaktiewe aksie geneem om haar regte van appèl te bewaar nie, en het toegelaat dat hierdie regte verval,” sê Steinberg in die betooghoofde.

Sy sê Myeni is steeds ’n direkteur van minstens drie maatskappye en sou in ander direksies kon dien as die bevel nie afgedwing word nie.

Faizel Davids, hoof van Outa se regsprojekte, het Sondag gesê hy is oortuig daarvan die volbank regters Maandag in Outa se guns sal beslis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.