Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dudu verloor saak, moet nou uit direksies bedank

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), se jongste appèlaansoek om ’n bevel om te keer wat haar verbied om as direkteur op enige direksie te dien, is van die hand gewys.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL). Foto: Gallo Images

’n Volbank regters van die hooggeregshof in Pretoria het Maandag hul uitspraak gelewer en gesê Myeni se appèlaansoek om ’n tussentydse bekragtigingsbevel van regter Ronel Tolmay om te keer, is van die hofrol verwyder.

Myeni se advokaat, Dali Mpofu SC, het aangevoer dat Myeni se hoofappèlaansoek teen haar verklaring tot misdadige direkteur op 27 Mei 2020 die bekragtiging van die bevel opskort.

Gewoonlik sou dit die geval gewees het. Maar die volbank regters het saamgestem met die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) se regspan wat aangevoer het dat Eric Mabuza, Myeni se prokureur, nie betyds die hoofappèlaansoek ingedien het nie.

Sodanige aansoeke moet binne 30 dae van die aanvanklike uitspraak ingedien word.

Mabuza het in sy eedsverklaring aangevoer dat daar “logistieke probleme” was met betrekking tot hul appèlaansoek.

Die probleme het duidelik Myeni se kanse om nog ’n paar maande lank te dien op die minstens drie direksies waarop sy is, ontspoor.

Tolmay se bekragtigingsbevel bly dus van krag en Myeni móét nou uittree uit alle direksies, insluitend die staatsonderneming Centlec en die Jacob Zuma-stigting, waarvan sy die voorsitter is.

Dis ongeag of haar hoofappèlaansoek by die appèlhof gaan slaag.

Sowel adv. Carol Steinberg, SC vir Outa, as die volbank regters meen Myeni se kanse vir sukses by die appèlhof is maar “skraal”.

“Die kans dat die appellant se . . . aansoek by die appèlhof sal slaag, is redelik skraal,” lui die uitspraak.

Steinberg het aan Netwerk24 gesê dit blyk die einde van die pad te wees vir Myeni.

Outa en Saapa het reeds in 2017 die saak teen Myeni aanhangig gemaak.

Maar Mpofu het tydens hofverrigtinge aangedui dat hulle bereid is om al die pad tot by die konstitusionele hof te gaan om Myeni te laat vryspreek.

Intussen sal Myeni egter nie ’n sent verdien nie, want haar enigste bron van inkomste was haar posisies op direksies, het sy in ’n eedsverklaring gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.