Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Duisende het steeds nie VBS-geld kom haal

Altesame 5 530 Suid-Afrikaners het steeds nie die geld opgeëis wat hulle by die mislukte VBS Mutual Bank belê het nie.

Die embleem van VBS Mutual Bank wat ineengestort het weens grootskaalse bedrog.

Dit verteenwoordig meer as 31%, dus byna ’n derde, van die 17 750 Suid-Afrikaners of stokvelgroepe wie se beleggings reeds meer as twee jaar lank by Nedbank lê en wag vir hul regmatige eienaars.

Dis egter mense wat net ’n paar rand in hul VBS-rekeninge gehad het – die totale bedrag vir die 5 530 mense is R5,2 miljoen, oftewel gemiddeld R930,33 per persoon.

Die Reserwebank het Donderdag ’n dringende beroep op dié mense gedoen om hul geld op te eis. Die afsnydatum daarvoor is 8 Julie 2021.

VBS is op 11 Maart 2018 in kuratele geplaas nadat die bank ’n kontantvloeikrisis ontwikkel het. Dit het toe in ’n ondersoek geblyk die bank is jare lank na bewering deur sy topbestuur geplunder. R2,3 miljard het weggeraak of is geld wat nooit belê is nie.

Sewe mense word tans verhoor: Tshifhiwa Matodzi, voormalige voorsitter van VBS se direksie, Andile Ramavhunga, uitvoerende hoof, Phophi Mukhodobwane, voormalige tesouriehoof, Paul Magula en Ernest Nesane, albei destyds verteenwoordigers van die Openbare Beleggingskorporasie in VBS se direksie, lt.genl. Phalaphala Avhashoni Ramikosi, oud- finansiële hoof van die polisie en ’n nie-uitvoerende direkteur van VBS, en Nhlanhla Malaba, afgedankte ouditeursvennoot van KPMG, het in dieselfde hof as Truter verskyn. Philip Truter, voormalige finansiële hoof, is reeds tot tien jaar tronkstraf gevonnis en is ’n staatsgetuie teen die sewe.

VBS is op 13 November 2018 in finale likwidasie geplaas, met Anoosh Rooplal as likwidateur.

Die Reserwebank het mense en ondernemings wat tot R100 000 in ’n VBS-spaarrekening gehad het, toegelaat om hul geld by enige tak te onttrek van Nedbank, die bank wat aangewys is om die rekeninge oor te neem.

Altesame 17 750 rekenings is by Nedbank geopen en R261 miljoen is aan Nedbank betaal om die rekeninghouers se geld uit te betaal.

Teen 30 September vanjaar het 12 220 mense met deposito’s ter waarde van R255,8 miljoen al hul rekeninge by Nedbank geaktiveer. Die Reserwebank maak nie bekend hoeveel mense al hul geld onttrek het nie – hulle het ook die opsie om dit by Nedbank te hou.

Die Reserwebank, Nedbank en Rooplal werk self ook hard om die 5 530 mense in die hande te probeer kry.

Beleggers wat meer as R100 000 in VBS-rekeninge gehad het toe die bank in kuratele geplaas is, sal nog geruime tyd moet wag om te hoor hoeveel van hul geld hulle sal terugkry.

Rooplal is besig om al die eise teen die bank te verifieer.

Onder deposante wat meer as R100 000 in die bank gehad het en dus nie uitbetaal is nie, is 171 individue wat R41,5 miljoen by VBS belê het en 240 stokvel- en begrafnisverenigings met R20,5 miljoen.

Altesame 21 munisipaliteite het in ’n stadium R1,5 miljard by VBS belê. Munisipaliteite mag nie by ’n onderlinge bank belê nie. Die Reserwebank het munisipaliteite wat by VBS belê het, reeds voordat die bank in duie gestort het, gewaarsku dat hulle die wet oortree.

Dis onduidelik hoeveel munisipale geld by VBS belê is toe dit in duie gestort het.

Die likwidateur gaan voort om agterstallige skuld op VBS-lenings in te vorder. Dis negatief deur die Covid-19-pandemie geraak.

Siviele sake om op bates beslag te lê wat deur die plundery bekom is, duur ook nog voort.

Meer oor:  Vbs  |  Vbs Mu­Tual Bank  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.