Die deure van minstens een Dunkin’ Donuts-tak het gesluit en dié oliebol-winkels gaan gelikwideer word.

Dunkin’ Donuts se tak naby die parlement in Kaapstad was teen Vrydag gesluit. Foto: Jaco Marais
Die tak in Pleinstraat, Kaapstad, was reeds Vrydag toe, met ’n kennisgewing op die deur dat dit “tot verdere kennisgewing” gesluit is. Die tak in Langstraat en in Canal Walk en ander winkelsentrums was egter steeds oop.
Volgens ’n werker van een van die winkels maak die takke hul deure op 28 Februarie toe.

Dunkin’ Donuts en Baskin-Robbins word gelikwideer, het Grand Parade Investements bekend gemaak. Foto: Jaco Marais
Grand Parade Investments (GPI), wat die meesterfranchise-lisensie vir Suid-Afrika vir die Amerikaanse handelsnaam hou, het Vrydagoggend vroeg in ’n Sens-verklaring bevestig dat hy aansoek gedoen het om die vrywillige likwidasie van dié onderneming.
GPI het nog nie navrae beantwoord oor hoeveel mense hul werk kwyt is nie, en ook nie wanneer die winkels hul deure finaal gaan sluit nie.
Takke van die roomyswinkel Baskin-Robbins, wat soos die oliebolle deur die Amerikaanse maatskappy Dunkin’ Brands besit word, sluit ook.

Die Baskin-Robbins-tak in die winkelsentrum Canal Walk in Kaapstad is nog oop, maar sluit glo ook op 28 Februarie. Foto: Jaco Marais
Dit kom minder as twee en ’n half jaar sedert die eerste Dunkin’ Donuts-tak in Oktober 2016 in Suid-Afrika geopen het.
GPI het na raming meer as R100 miljoen verloor het om dié ondernemings te vestig.
In ’n Sens-verklaring sê GPI hy kon nie daarin slaag om ’n koper vir die ondernemings te vind nie.
GPI besit ook die meesterlisensie vir Burger King, wat in 2013 met heelwat meer sukses ingevoer is.
Daar is tans 12 takke van Dunkin’ Donuts en vyf van Baskin-Robbins, almal in die Wes-Kaap, GPI se hartland. Met die bekendstelling van Dunkin’ Donuts het GPI ’n mikpunt van 250 takke landwyd gestel.
Die maatskappy het reeds einde verlede jaar op sy jaarvergadering aangekondig hy draai remme aan met uitbreidings weens die volgehoue verliese van dié handelsname.
Dunkin’ Donuts is geknou deurdat oliebolle aanvanklik per lugvrag ingevlieg is Suid-Afrika toe voordat GPI sy eie bakkery op die been gebring het. Baskin-Robbins moes 34 geure op ’n slag aanhou, waarvan baie geure omtrent glad nie verkoop het nie, en GPI het vroeër gesê roomys is ’n baie seisoenale produk in Suid-Afrika.
Dunkin’ Donuts sluit in takke in groot winkelsentrums soos Canal Walk, Tygervallei en N1 Stad, asook in die middestad van Kaapstad en op Stellenbosch. Baskin-Robbins is ook in onder meer Canal Walk en Tygervallei.