Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Duurder krag plaas nog meer druk op Amsa

Die feit dat Eskom kragtariewe oor die volgende drie jaar met nog 10% mag verhoog, gaan ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) miljoene rande uit die sak jaag.

Die Saldanha Staal-aanleg op die Weskus. Foto: Argief

Kobus Verster, uitvoerende hoof van Amsa, sê Donderdag in ’n gesprek met die media as hy moet raai, gaan dit Amsa tussen R250 miljoen en R300 miljoen per jaar meer kos.

“As jy dink dat hoë kragtariewe een van die groot redes is hoekom ons Saldanha Staal moes sluit, dan is dit duidelik dat ’n beduidende styging in kragtariewe ’n groot invloed op ons gaan hê,” sê Verster.

Meer as 1 000 werkers en kontrakteurs het hul werk verloor toe die aanleg vroeër vanjaar in ’n stand van sorg en instandhouding geplaas is. Die sluiting van die aanleg was egter net die begin van die treurmare by Amsa.

Amsa het in die eerste ses maande van 2020 ’n enorme verlies weens die Covid-19-pandemie gely. Die maatskappy het Donderdag bekend gemaak dat hy ’n wesensverlies van R2,6 miljard gely het vir die ses maande tot einde Junie.

Dis meer as vier keer die wesensverlies van R638 miljoen ’n jaar gelede.

Die wesensverlies per aandeel van R2,39 is ook vier keer swakker as die 58c van ’n jaar tevore.

Verster sê kommer oor die virus het die vraag na staal beïnvloed nog voordat dit in Maart na Suid-Afrika versprei het. Dit gaan nie binnekort weer styg tot die vlakke wat voor die pandemie geheers het nie. Hy verwag dat dit mettertyd tot tussen 70% en 75% van die vraag van voor die pandemie gaan herstel.

Volgens Verster het Amsa se produksie van vloeibare staal met 54% tot 1,1 miljoen ton gedaal. Die maatskappy het ook net 1,1 miljoen ton staal gedurende die tyd verkoop. Dit is 47% minder as die ooreenstemmende tyd ’n jaar gelede.

Sy inkomste het met 45% tot R12 miljard gedaal terwyl sy skuld met bykans 10% tot R3,7 miljard gestyg het.

Aanlegte

Wat aanlegte betref, het Amsa reeds verskeie stappe gedoen om dele van aanlegte te laat luier.

Die maatskappy sê met dié dat plaaslike staalverbruik met 26% tot 1,8 miljoen ton gedaal het, terwyl uitvoer met 65% tot net 200 000 ton gedaal het, het dit hom genoop om grootskaalse veranderinge te oorweeg. Hy het hoogoond C in sy aanleg in Vanderbijlpark en die boogoond in sy aanleg in Vereeniging vir eers afgeskakel “totdat die vraag herstel”.

Die hoogoond by Newcastle in KwaZulu-Natal werk tans teen 70% van sy vermoë. Die kooksstampers in Pretoria en NewCastle luier ook.

Herstrukturering

Verster het herhaal dat die herstrukturering van die maatskappy ook ’n invloed op werknemers gaan hê. Hy sê in dié stadium kan hy geen aanduiding gee van presies hoeveel werkers beïnvloed sal word nie. Dit is omdat onderhandelinge voortduur ingevolge art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge.

Die maatskappy het tans 9 500 heeltydse werknemers, terwyl ’n verdere 1 800 subkontrakteurs ook dienste lewer.

Verster het bevestig dat die maatskappy die afgelope jaar tussen die sluiting van die Saldanha-aanleg en ’n vorige herstrukturering reeds 1 500 van sy eie werkers uit diens gestel het. Van hulle het 500 by Saldanha Staal gewerk.

Hy het ook 1 500 subkontrakteurs se dienste beëindig. Hiervan het sowat 750 by Saldanha Staal gewerk.

Toekoms

Verster sê Amsa plaas baie hoop op pres. Cyril Ramaphosa se belofte dat die staat op infrastruktuur gaan fokus om die ekonomie weer aan die gang te kry.

“Dis nie net goed vir ons nie, maar vir die res van die ekonomie, veral vir werkskepping,” sê hy.

Verster hoop egter dat die projekte vinnig op dreef kom en dat dit nie soos in die verlede beloftes bly waarvan daar nie veel kom nie.

Amsa se aandeleprys het Donderdag 20% laer op die JSE teen net 27c verhandel. Dit volg nadat dit Woensdag ook met 15% gedaal het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.