Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Duurste Curro-skole oorweeg laer skoolgelde

Skoolgelde in enkele Curro-skole gaan dalk volgende jaar min of glad nie styg nie. Daar is selfs die moontlikheid dat skoolgelde verlaag kan word.

Curro probeer homself herposisioneer as 'n goedkoper skool vanjaar.

Andries Greyling, uitvoerende hoof van die privateskolegroep, sê leerlingtalle in enkele van die groep se duurste skole stagneer en hulle wil dié skole “herposisioneer”. Dit is skole waarvan die skoolgeld in die omgewing van R10 000 tot R12 000 per maand beloop. Dit verteenwoordig slegs “vier of vyf” van Curro se kampusse.

Die swak styging in leerlingtalle in dié skole spruit uit die swak ekonomie en ’n toename in emigrasie onder welvarende Suid-Afrikaners, sê Greyling.

Skerp mededinging onder private skole in gegoede woonbuurte dra egter ook tot die probleem by.

Greyling sê onder die skole wat geraak word, tel dié in Randburg en Pretoria-Oos, albei in Gauteng.

Curro se gemiddelde inkomste per leerling het in die ses maande tot einde Junie met slegs 5,8% gegroei, en Greyling sê dis juis omdat die skole met hoë skoolgelde se aantal leerlinge traer groei.

In die geheel gesien het Curro se getal leerlinge egter weer stewig gestyg, met 13% tot 57 173 leerlinge.

Dit is grootliks omdat die privateskolegroep die grootste getal nuwe skole in een jaar gebou en gekoop het sedert 2015. Die groep het die afgelope jaar tien nuwe kampusse en 22 nuwe skole bygekry. Die groep het nou 164 skole op 68 kampusse.

LEES OOK: Nuwe skole steun Curro se syfers

Greyling is vol vertroue dat die groep se leerlingtalle sal aanhou styg, veral ook omdat 40% van die groep se kampusse nog jonk is en nog nie gr. 12-leerlinge inneem nie.

Greyling sê dit duur tot vyf jaar voordat ’n nuwe skool alle grade aanbied. Die groep begin gewoonlik met twee klasse per graad en klasse word dan geleidelik bygevoeg totdat ’n skool Curro se mikpunt van ses klasse per graad haal.

Groei in Curro se skole met laer skoolgelde, soos Curro Academy en Curro DigiEd, is “ongelooflik goed”, sê Greyling.

Greyling is nou twee jaar Curro se uitvoerende hoof, maar is al sedert 2006 by die groep betrokke. Hy was onderskeidelik finansiële en bedryfshoof voordat hy in Julie 2017 by dr. Chris van der Merwe oorgeneem het as uitvoerende hoof. Van der Merwe is nou die uitvoerende hoof van Stadio, ’n genoteerde verskaffer van tersiêre onderrig wat uit Curro ontknoop is.

Greyling sê die afgelope drie jaar was die moeilikste wat hy al beleef het weens die ekonomiese druk. Dit het ouers moeilike keuses laat doen. “Voorheen het ons altyd ervaar dat ouers eerste vir onderwys betaal.”

Die groep se swak skuld verteenwoordig slegs 0,8% van sy inkomste, maar daar is wel ’n styging in die getal kinders wat Curro-skole weens finansiële druk verlaat.

Die Curro-groep het nou 3 262 onderwysers, 268 meer as ’n jaar gelede. Greyling sê dis vir hom verblydend dat al hoe meer jong mense weer begin onderwys studeer.

Die groep sukkel nie om poste te vul nie, met die uitsondering van vakspesialiste in gr. 10 tot gr. 12. Dis ook nie net wiskunde- en wetenskaponderwysers wat skaars is nie – daar is ook ’n tekort aan inligtingstegnologie-onderwysers, en selfs dié wat Engels en rekeningkunde kan gee.

Greyling is betreklik optimisties dat die groei in leerlingtalle in 2020 voortgesit sal word.

    Meer oor:  Curro  |  Andries Greyling  |  Private Onderrig  |  Skoolgeld  |  Private Skole
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.