Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Edcon: ‘100% skuldvry, duisende poste gered’

Edcon is amptelik sonder ’n sent skuld en het genoeg kontant om vir “minstens twee jaar” op dreef te bly, maar net enkele van sy bekende handelsmerke gaan oorleef.

“Ons het nou nul rand skuld. Oor drie jaar beoog ek om die maatskappy weer onafhanklik te sien,” sê Grant Pattison, die kleinhandelsgroep se uitvoerende hoof.

Grant Pattison, uitvoerende hoof van Edcon, tydens sy voorlegging by Gibs in Sandton oor die ooreenkoms wat Edcon gered het. Foto: William Horne

Pattison het Dinsdagaand op ’n voorlegging in Sandton vir die Gordon Institute of Business Science (Gibs), die sakeskool van die Universiteit van Pretoria, gesê dit was vir sleutelspelers in die private sowel as openbare sektor baie belangrik dat die maatskappy oorleef. Hulle het saam verseker dat Edcon ontslae raak van sy skuldlas van R7 miljard, wat steeds spruit uit die privatisering van die firma meer as tien jaar gelede.

Edcon, wat onder meer Edgars, Jet, Thank U- finansiële dienste en CNA besit, is al sedert Desember in noodgesprekke om sy onderneming en sowat 100 000 regstreekse poste en onregstreekse poste (onder meer by verskaffers) te red.

Die Mededingingstribunaal het op 9 Mei ’n nuwe rakmaatskappy, vir eers net bekend as die NewHold Co, goedgekeur wat nou beheer sal neem van al Edcon se uitgereikte aandele. Dit sluit in maatskappye wat in Edcon-effekte belê het, instansies aan wie Edcon geld geskuld het, insluitend die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en banke, asook die eienaars van groot winkelsentrums waar Edcon ruimte huur. Verskeie groot verhuurders het afslag op huur vir ’n belang in Edcon verruil.

Een van die OBK se kliënte, die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), het ook R1,2 miljard kontant in die groep belê.

“Die enigste rede hoekom ons vandag hier staan, is omdat nie ’n enkele van dié sleutelspelers wou hê dat die ooreenkoms om die onderneming te red moes misluk nie,” sê Pattison.

Edcon “was te groot om te misluk”.

“Nie een mens uit al daai belanghebbendes het ooit die ooreenkoms teengestaan nie. Nie een wou ooit hul naam sien langs ’n rede hoekom so ’n groot onderneming en werkskepper bankrot gegaan het nie.”

Pattison, voorheen uitvoerende hoof van Massmart, verduidelik toe hy in April 2017 ’n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van Edcon geword het, het die onderneming pas sy skuldlas van R27,6 miljard tot R7 miljard verminder deurdat banke aandele verkry het in ruil vir hul lenings. Die skuld spruit uit Edcon se denotering ’n dekade vantevore. Die Amerikaanse beleggingsbeheerfirma Bain Capital het ander aandeelhouers uitgekoop, maar die transaksie is met skuld gefinansier.

Volgens Pattison was die werklike situasie by Edcon heel anders as wat aandeelhouers gedink het ná die “oorwinning” dat skuld tot R7 miljard verminder is.

Toe hy in Julie 2017 as uitvoerende hoof aangewys is, ’n pos wat hy eers ses maande later amptelik oorgeneem het, moes R3,5 miljard van die skuld reeds geherfinansier word.

Ek moes toe ook aan die direksie gaan verduidelik dat hul maatskappy eintlik nie R10 miljard werd was soos hulle gedink het nie. Dit was meer soos nul rand werd.
Grant Pattison, Edcon-hoof

“Ek moes toe ook aan die direksie gaan verduidelik dat hul maatskappy eintlik nie R10 miljard werd was soos hulle gedink het nie. Dit was nader aan nul rand werd.”

Die winsmaatstaf wat Edcon op daardie tydstip gebruik het om sy balansstaat te evalueer, het volgens Pattison ’n enorme wanpersepsie geskep aangesien dit nie die skuldlas weerspieël het nie. Die maatstaf van verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (ebitda) is gebruik.

“Ebitda beteken kapitaal is ‘verniet’. Dit laat jou die belangrikste deel van jou onderneming, naas verkope, ignoreer: die toewysing van kapitaal.

“Dit was ’n rowwe begin.”

Edcon was op bedryfsvlak steeds ’n uitstekende onderneming, maar herstrukturering en ander koste was besig om dit in die wiele te ry, sê Pattison.

Een so ’n koste was dié van adviseurs wat selfs ná die herstrukturering van 2016 nog by Edcon ingegrawe was.

“Toe ek as uitvoerende hoof ingetree het, het ek Bain & Company en PwC dadelik die deur gewys. Bain het bykans R1 miljard uit ons uit getap en het nooit erken dat hulle min, oftewel niks, daarvoor te wys gehad het nie.”

Dié Bain & Company is nie die vorige eienaar, Bain Capital nie, maar die adviesdiensfirma wat verlede jaar in die nuus was vir die mislukte “herstruktureringsplan” van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), ’n projek wat Tom Moyane as vorige kommissaris van die SAID aangepak het. Dit het onder meer tot die staking van alle tegnologieprojekte gelei, senior mense is uit hul pos verwyder en belangrike afdelings teen onder meer sluikhandel is ontbind.

Daarna het Pattison en sy span ’n herkapitaliseringsplan begin aanmekaar sit.

“Niemand wou aanvanklik vir ons geld gee of van ons sake-eenhede koop nie.”

Om die OBK aan boord te kry, moes Pattison wys hoe belangrik dit was dat Edcon se deure oop bly. Hulle het klem gelê op die potensiële werkverliese.

“Baie mense het gedink dié strategie was ’n dreigement, maar dit was nie. Dit was net waar – 100 000 mense sou hul werk verloor.

“Die vakbonde Saccawu, Sactwu en die vakverbond Cosatu het tot ons redding gekom, hul moue opgerol en gesê: Genoeg is genoeg.”

Die OBK het einde 2018 ’n belegging van R1,2 miljard goedgekeur, maar toe word ’n groot stok in die wiel gesteek: Dr. Daniel Matjila, wat van bedenklike beleggingsbesluite by die OBK beskuldig is, bedank onder druk.

Aprilmaand was reeds baie goed. Ons is beslis deur die ergste.
Grant Pattison, Edcon-hoof

Pattison sê hulle was ’n geruime tyd onseker of die OBK by hul ooreenkoms sou hou, maar te danke aan die werk van Mildred Oliphant, minister van arbeid, het die WVK vir dié geld pa gestaan.

Die reddingsplan is onderhewig aan verskeie voorwaardes oor swart ekonomiese bemagtiging en plaaslike verkryging en die beskerming van poste wat die Mededingingskommissie vereis het.

As deel van sy breër herstrukturering vir langtermyn-volhoubaarheid gaan Edcon slegs op Edgars, Jet, CNA en Thank U fokus.

“Enige ander winkelnaam nie op dié lys nie, sal verkoop, toegemaak óf geabsorbeer word.”

Die proses is reeds aan die gang. Netwerk24 het reeds berig dat Boardmans voortaan Edgars Home word en Red Square Edgars Beauty. In sekere winkelsentrums word dié afdelings tot binne-in Edgars-winkels geskuif om huur te bespaar.

Edgars-winkels sal ook verminder en verklein word tot beter presterende groottes van sowat 5 000 m², terwyl Jet-takke sal vermeerder en gemiddeld 750 m² groot sal wees.

“April-maand was reeds baie goed. Ons is beslis deur die ergste,” sê Pattison.

Of Edcon egter op lang termyn gaan oorleef, bly ’n ope vraag.

“Net tyd sal kan sê.”

Meer oor:  Jet  |  Cna  |  Edcon  |  Bain  |  Edgars  |  Pwc  |  Grant Pattison  |  Kleinhandelaars  |  Klerebedryf  |  Klere  |  Klerekleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.