Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Edcon: 22 000 mense kry art. 189-briewe
Inkopiegangers verlaat ’n Edgars-mode- en tuiswarewinkel, wat bedryf word deur Edcon Holdings Ltd.

Sowat 22 000 werknemers van Edcon, wat reeds sedert einde April in sakeredding is, het amptelik hul beplande art. 189-briewe ontvang, wat grootskaalse afleggings by dié klerekleinhandelaar ’n gegewe maak.

Die beplande afleggings sluit heeltydse sowel as deeltydse werknemers in.

Toe die sakeredding begin is, het die groep 650 winkels gehad, en sowat 17 292 heeltydse werknemers en 5 000 deeltydse werknemers.

The Sowetan berig dat die sakereddingspraktisyns, Piers Marsden en Lance Schapiro, Donderdag die afdankingsbriewe, wat deel is van die sakereddingsplan wat op 8 Junie gepubliseer is, uitgereik het.

Die art. 189-proses is begin om te verseker dat as ’n koper vir Edcon as geheel gevind kan word, sal minstens sekere van die werknemers hul poste kan behou.

Volgens Marsden en Schapiro is die sakereddingsplan op die grondslag van ’n versnelde verkoopsproses voorberei omdat geen beleggers of finansiering gekry kon word nie. Hulle kon ook nie aanvangsfinansiering vir die sakeredding kry nie.

Die doel met die versnelde verkoopsproses is om die onderneming as geheel as ’n lopende saak te probeer verkoop. As dit nie moontlik is nie, wil hulle die afdelings – soos Edgars of Jet afsonderlik – as lopende sake verkoop.

Dit sal verseker dat van die personeel oorgedra en poste bewaar kan word.

“Tans is geen bindende aanbod nog ontvang nie en daarom kan ons nie voorspel watter dele van Edcon suksesvol verkoop sal word nie,” het Schapiro aan The Sowetan gesê.

“Daarom is dit verstandig om ingevolge art. 189 (van die Wet op Arbeidsverhoudinge) met alle werknemers te konsulteer, en as ’n aanbod gemaak, aanvaar en in werking gestel word, sal die werknemers wat geraak word, na die nuwe eienaars oorgeplaas word.”

Lucas Ramatlhodi, koördineerder van die sekretariaat van die vakbond Saccawu, het gesê die vakbond meen die besluit om Edcon in sakeredding te plaas, is “baie voortydig”, berig TimesLive.

Dis nou net meer as ’n jaar sedert die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) namens die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) R1,2 miljard in Edcon belê het om dié winkelgroep te help red. Die WVF word as ’n versekerde skuldeiser met ’n eis van R888,7 miljoen gelys.

Die groep skuld sy krediteure bykans R7 miljard, waarvan die versekerde skuldeisers se eise R3,7 miljard beloop.

Ramatlhodi is egter teleurgesteld omdat Saccawu nog nie kon sien waarheen die OBK se geld is en hoe dit die onderneming met sy regrukplan gehelp het nie.

Volgens die sakeredders was die regrukplan nog op koers tot en met Desember 2019. Daarna het beurtkrag en die resessie die maatskappy erg geknou.

Die finale slag was die staat van inperking, waartydens Edcon 45 dae lank verbied is om sake te doen en wat daartoe gelei het dat die groep nie meer sy verskaffers kon betaal nie.

“Ons vertrou nie die proses nie, want ons weet nie van suksesverhale uit ’n sakereddingsplan nie. Al waarvan ons weet, is die eindresultaat – van werkverliese en dat die maatskappy uiteindelik in duie stort,” het Ramatlhodi gesê.

Meer oor:  Edcon  |  Jet  |  Edgars  |  Maatskappye  |  Sakeredding  |  Klerewinkel  |  Afleggings  |  Kleregroep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.