Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Edcon hoor nou eers begin Julie oor kopers

Die sakereddingspraktisyns van die Edcon-groep het die spertyd verleng vir die partye wat ’n aanbod vir die groep in geheel of van sy onderafdelings soos Edgars of Jet wil maak.

Die bindende aanbiedinge word nou vroeg in Julie verwag.

Krediteure van Edcon het reeds die sakereddingsplan goedgekeur vir dié kleinhandelaar goedgekeur. Foto: Bloomberg

Die aanvanklike spertyd was vir Dinsdag.

“Die verskuiwing is te wagte in ’n komplekse sakereddingsproses soos die van Edcon,” sê die sakeredders.

Hulle wou nie verdere besonderhede oor ’n vertroulikheidsooreenkoms verskaf nie.

Behalwe Jet en Edgars is ThankU, die lojaliteitskaart met 14 miljoen lede, ook te koop.

Die sakereddingsplan behels ’n versnelde verkoop van die onderneming in geheel of sy dele en daarna word die res toegemaak.

“Dit is noodsaaklik dat die versnelde proses voor einde Junie ’n gunstige resultaat oplewer om die nuwe eienaars genoeg tyd te gee om met verskaffers te onderhandel om voorraad vir die somer te verkry,” lui die oorspronklike plan wat op 8 Junie vrygestel is.

“Daarsonder sal die onderneming waarskynlik misluk in die somer weens ’n gebrek aan produkte.”

Die plan is steeds om eers die hele ondernemings as ’n lopende saak te verkoop. Indien dit nie moontlik is nie, word die afdelings as lopende sake verkoop.

’n Tweede gedeelte van die plan is om te begin met ’n proses om die res van die onderneming toe te maak. Dan gaan die bates wat nog nie verkoop is nie toegemaak word deur uitverkopings te hou en deur veilings, luidens die sakereddingsplan.

Dit sal ook tot die aflegging van alle oorblywende personeel lei. Die art. 189-proses het reeds begin.

Aanvanklik was daar belangstelling van 19 partye vir die versnelde verkoopsproses. Ná die eerste fase het 15 partye oorgebly wat na die tweede fase van die proses as voorkeurbieërs kon gaan.

Die aanvanklike spertyd vir die 15 voorkeurbieërs wat op 2 Junie gekies is, was om teen 30 Junie met hul noulettendheidsondersoeke klaar te wees en ’n bindende aanbod op tafel te sit.

Die tweede gedeelte van die plan was ook veronderstel om vir ’n tydperk van twee maande van 1 Julie af te begin naamlik die toemaak van alles wat nie op die versnelde grondslag verkoop kan word nie.

“Van 1 Julie af gaan die handelsbeëindiging in winkels begin en vir twee maande duur. Die maatskappy gaan begin om voorraad op uitverkoping te plaas om sy voorraad weg te werk,” lui die plan.

Personeel sal in dié tydperk betaal word. Die afleggingspakkette wat op R597 miljoen geraam word, gaan aan die einde van die tydperk betaal word onderhewig aan beskikbare kontant en die art. 189-proses.

Ná die tydperk gaan verbruikers wat nog geld op hul rekeninge skuld aan skuldinvorderaars oorhandig word.

Dit is onseker hoe die verlenging van die sperdatum nou dié proses raak. – Bloomberg, bygewerk deur Nellie Brand-Jonker

Meer oor:  Edcon  |  Klerewinkel  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.