Die sukkelende Edcon-groep, wat in sakeredding is, het ’n verkoopsooreenkoms gesluit om dele van sy kettingwinkelgroep Edgars te verkoop.

Edcon se sakeredders voer aan duisende poste gaan gered word met hul sakereddingsplan. Foto: Bloomberg
Die groep het in Julie aangekondig hy het ’n aanbod vir sekere winkels van Edgars van Retailability gekry.
Retailability het 460 winkels in Suid-Afrika en sy buurlande, waaronder Legit, wat vroeër ook by Edcon gekoop is.
Die sakeredders van Edcon het dit beskryf as ’n tree nader daaraan om die verkoopstransaksie af te handel en die doelstellings van die sakereddingsplan te bereik.
Die afhandeling van die transaksie word in September beoog, maar daar moet nog aan verskeie voorwaardes voldoen word.
Die mededingingsowerhede moet dit ook nog goedkeur.
Die partye werk nou daaraan om die verkoopsooreenkomste vir Edgars se onderneming in die res van Afrika te onderteken.