Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Edcon-sakeredder sê hoekom hy in Kanada sit

Die twee sakeredders wat aangestel is om ’n sakereddingsplan vir die winkelgroep Edcon te behartig, het vandeesweek ’n vet verhoging in hul vergoeding daarvoor gekry – terwyl een van hulle hom in Kanada bevind.

Inkopiegangers verlaat ’n Edgars-mode- en tuiswarewinkel, wat bedryf word deur Edcon Holdings Ltd. Foto: Getty Images

Daar is vandeesweek berig oor die kritiek wat die sakeredders gekry het nadat hulle hul vergoeding per uur met 157% wou verhoog.

LEES OOK: Oë rek oor Edcon-redders se verhoging van 157%

Hulle het gevra dat hul vergoeding meer as verdubbel van R1 750 per uur tot R4 500 per uur, en dat die daaglikse perk op hul vergoeding van R25 000 tot R45 000 verhoog word. Dit is Maandag op ’n vergadering goedgekeur.

Die twee sakeredders, Piers Marsden, wat hom in Kanada bevind, en Lance Schapiro, het skriftelik as volg op twee vrae geantwoord.

1. Wat is die rede vir die reuse-verhoging?

“Die maatskappywet bepaal dat ’n vergoeding gehef word op grond van ’n uurlikse tarief wat gegrond is op die telling wat ’n onderneming vir sy openbare belang kry. Dit is ’n telling wat gegrond word op die aantal personeellede, die inkomste, die aandeelhouers en die skuld wat uitstaande is.

“Die wet, wat in 2008 in werking getree het, is sedertdien nog nie aangepas nie.

“Die wet bepaal die vergoeding vir ’n grootskaalse sakeredding, vir ’n onderneming met ’n telling van 500 vir openbare belang, is R2 000 per uur (BTW ingesluit). Dié tarief is in 12 jaar nog nie gewysig nie, nie eens om vir inflasie voorsiening te maak nie.

“Die telling vir openbare belang wat Edcon kry, is 43 000. Wat die omvang en kompleksiteit betref, is dit duidelik ver bo die maksimum tarief wat gestel word.

“Die verhoging in die vergoeding word voorgestel op grond van die senioriteit van die praktisyns, gebaseer op die kundigheid wat benodig word om ’n baie moeilike sakeredding te benader, sowel as die grootte, ingewikkeldheid en tydsbeperkings van die aangeleentheid.

“Die ure sal beperk word tot 10 per dag teen R4 500 per uur. Die ure gewerk, sal gedokumenteer word.”

2. Hofstukke het Maandag getoon Marsden bevind hom in Kanada. Kan julle dit bevestig en verduidelik hoe hy van daar af werk?

“Ons kan bevestig mnr. Marsden bevind hom in Kanada. Ons glo glad nie dat dit ’n probleem is nie. As ’n senior sakevennoot word hy beskou as een van die mees ervare en hoogs erkende en bekroonde praktisyns, wat ons glo die regte persoon is om die komplekse en ingewikkelde sakereddingsproses te bestuur.

“Dit gesê, vanuit ’n praktiese oogpunt kan die werk wat hulle doen, oor ’n afstand gedoen word. Met tegnologie en deurlopende beskikbaarheid en toewyding aan die proses, kan die doeltreffende lewering van die plan moontlik gemaak word.

“Dit het nie die funksies en pligte wat vir die proses vereis word, verhinder nie. Ons is gemaklik daarmee dat daar volle beheer is met ’n bevoegde en gerespekteerde span op die terrein.

“Daarbenewens bepaal die reëls vir die staat van inperking dat waar jy oor ’n afstand jou werk kan doen, jy dit so moet doen. In hierdie geval is die aard van die werk sodanig.

“Die staat van inperking het ook ’n verbod op internasionale reise geplaas en die streng tydsbeperkinge van die sakereddingsplan het vereis dat daar voortgegaan word met die uitvoering van die plan, ten spyte van die situasie.

“Die maatskappy se bestuurspan bly aan om die reddingsproses te ondersteun en gaan voort met hul funksies soos voorheen. Die reddingspan en die mede-praktisyn is op die terrein.”

Meer oor:  Jet  |  Edcon  |  Edgars  |  Sakeredders  |  Sakeredding  |  Verhoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.