Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Edcon se aflegging van 2 500 mense afgehandel

Sowat 2 500 personeel van die kleinhandelgroep Edcon is afgelê, terwyl 3 900 vrywillige skeidingspakkette aanvaar het.

Edgars behoort nou aan Retailability, wat onder meer ook Legit besit.

Edcon se sakereddingspraktisyns het in die jongste vorderingsverslag oor die sakereddingsproses gesê die art. 189-proses is nou afgehandel.

Die verslag toon 10 000 poste is gered danksy die verkoop van die meeste Jet- en Edgars-winkels.

Edcon het ná jare se finansiële probleme finaal geknak tydens die inperking en is in sakeredding geplaas.

Sedert die vorige vorderingsverslag is die winkels van Edgars en Jet onderskeidelik aan Retailability en The Foschini Group (TFG) verkoop. Die oordrag het op 12 September en 25 September plaasgevind.

Die sakereddingsverslag toon 120 Edgars-winkels is oorgedra en 378 Jet-winkels.

Altesame 5 200 personeel van Edgars en 4 800 is na die nuwe eienaars oorgedra.

Die sakeredders het by navraag gesê 3 900 mense het vrywillige skeidingspakkette aanvaar en 2 500 is deur gedwonge afleggings geraak.

Die sakeredders het in die vorderingsverslag gesê die tweede deel van die sakereddingsplan het begin nadat die versnelde verkoopsproses van dele van Jet en Edgars afgehandel is.

Die tweede deel behels die plan om die res van die bates te verkoop en Edcon toe te maak.

“Ingevolge die proses probeer die sakeredders die oorblywende bates (insluitend handelsname) verkoop.”

Dit kan op verskillende maniere plaasvind insluitende met veilings.

Volgens die sakereddingspraktisyns sluit die oorblywende bates in: versekeringsbedrywighede, meubels en ander toebehore; kantoortoerusting en skryfbehoeftes.

Jet
Jet behoort nou aan TFG, die groep wat ook Foschini en Totalsports besit.

Die handelsname wat nog verkoop moet word, is alles wat nie deur TFG en Retailability gekoop is nie. Hulle het nie uitgewei oor wat dit is nie. Die ander bekende handelsnaam in die Edcon-stal, CNA, is reeds in Februarie aan ’n konsortium verkoop word waarvan die meerderheid deur Astoria Investments besit word.

Sekere hoofkantoorpersoneel is ingevolge die ooreenkomste met TFG en Retailablity na hulle oorgedra, sommige het vrywillige skeidingspakkette geneem terwyl ander deur die 189-proses geraak is.

Die sakeredders openbaar nie die prys waarteen Retailability en TFG die dele van Jet en Edgars se ondernemings verkry het nie.

In die vorderingsverslag word gesê die prys is gegrond op die voorraad met afsluiting.

Edgars word in twee dele betaal, met die sluitingsdatum van die ooreenkoms 31 Maart volgende jaar.

Jet word in drie dele betaal, met die sluitingsdatum einde Maart en einde Augustus volgende jaar.

Die finale koopsom sal bepaal word nadat die voorraad getel is. Die sakeredders verwag die uitslag daarvan in Oktober en die inligting sal in die volgende vorderingsverslag bevat word.

TFG het voorheen gesê die maksimum wat hy betaal, is R480 miljoen.

In September is die verkoopsooreenkomste ten opsigte van sekere dele van die ondernemings in die res van Afrika onderteken. Dié ooreenkomste is onderhewig aan goedkeuring van mededingingsowerhede.

“Die implementering van die ooreenkomste gaan na verwagting teen 30 November afgehandel word.”

Meer oor:  Jet  |  Retailability  |  Cna  |  Edcon  |  Tfg  |  Edgars  |  Kleinhandelaars  |  Sakeredding  |  Klere  |  Afleggings  |  Klerekleinhandel  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.