Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Edgars se nuwe eienaar antwoord vrae oor klagtes
Klante wat onseker is oor watter winkels gesluit is, kan ’n skakel op Edgars se webtuiste volg. Die Edgars in Adderley-straat in Kaapstad is byvoorbeeld gesluit sowat twee dae voor die winkel oorgedra sou word omdat die verhuurder ter elfder ure uit die ooreenkoms onttrek het.

Die nuwe eienaar van die kettingwinkelgroep Edgars is hard aan die werk om sy stelsels en voorraad gereed te kry vir Swart Vrydag.

Edgars se aanlyn winkel gaan heropen en ’n nuwe lojaliteitsprogram word bekend gestel.

Netwerk24 het met Norman Drieselmann, uitvoerende hoof van Retailability, gesels om meer te wete te kom oor die groep se planne met die winkels en hoe klante se probleme met hul rekeninge opgelos kan word.

Retailability het 120 Edgars-winkels bekom en die res van die winkels is permanent gesluit nadat die vorige eienaar, Edcon, wat al jare lank sukkel, einde April in sakeredding geplaas is toe die inperking vir die pandemie hom die finale doodskoot toegedien het.

Sy kettingwinkelreekse Edgars en Jet moes inderhaas verkoop word om soveel moontlik poste te behou. Jet is deur TFG, die groep wat onder meer Foschini, Donna, @home en Totalsports besit, gekoop.

Die transaksie met Retailability is op 21 Augustus onderteken en die oordrag van die winkels het op 12 September plaasgevind.

Sowat 5 200 poste kon by Edgars behou word.

Probleme met rekeninge

Dit blyk egter dat Edgars op sy Facebook-blad en op die verbruikersklagteblad Hello Peter behoorlik deurloop onder klagtes van klante met hul rekeninge.

Dreiselmann sê hulle is bewus van die klagtes en skakel met klante op sosiale media, in winkels en deur sy oproepsentrum.

Die probleem met die klagtes is dat Retailability nie verantwoordelik is vir die rekeninge nie omdat die kredietverskaffer RCS die verbruikerskredietboek van Edgars by Edcon gekoop het.

Drieselmann sê daar moet in ag geneem word dat ’n verskuiwing van rekeninge van Edcon na RCS moes plaasvind én die winkels moes van Edcon na Retailability oorgedra word.

“ ’n Enorme verandering vind gevolglik plaas. Ons probeer ons bes om al die klagtes en navrae te hanteer.

“Dit is ’n baie moeilike tyd vir ons almal, maar dit is ook moeilik vir klante, omdat hulle voorheen gewoond was daaraan om net met Edgars te praat oor hul finansiëldienstenavrae.”

Volgens hom het Retailability nie toegang tot die inligting oor rekeninge nie. “Ons het geen regte om enige insig in rekeninge te kry nie en ongelukkig moet die navrae na RCS verwys word.”

Volgens hom behartig Retailability self van die navrae deur dit na RCS te stuur en op te volg om seker te maak dit word so spoedig moontlik opgelos.

“Ons kommunikeer daagliks op sosiale media om te probeer om klante op datum te hou met die vordering.”

Op sy Facebookblad is die afgelope paar weke spesifieke vrae beantwoord soos:

  • Watter winkels gesluit het;
  • Hoe rekeninge verander het; en
  • Wat geword het van aanlyn inkopies.

’n Leser wat anoniem wou bly, het gekla sy wou haar rekening by ’n winkel betaal, maar toe sy daar opdaag, moes sy vind die deure is permanent gesluit.

Daar is ’n skakel op Edgars se Facebookblad wat na sy webtuiste herlei waar klante kan bepaal watter winkels gesluit het. Die skakel kan hier gevind word.

Terselfdertyd het klante gevind die telefoonnommers van die winkels werk nie.

Drieselmann sê die Telkom-rekeninge moet ongelukkig verander en die proses is nog aan die gang om dit oor te skuif.

Volgens hom is al die winkels se betaalpunte reeds heeltemal op hul stelsels oorgedra.

Edgars se aanlyn winkel het vir eers toegemaak om die oordrag daarvan ook af te handel.

Edgars het 6 Oktober aangekondig die rekening met ses maande rentevrye terugbetalings is terug. Foto: Skermgreep
Edgars word oorstroom deur klagtes soos dié een op sy Facebook-blad. Foto: Skermgreep
Hier is van die talle klagtes oor die sesmaande- rentevrye rekening wat Edgars se nuwe eienaar en RCS wou beëindig. Die besluit is omgekeer.

   

Thank U-punte oorgedra

Die Thank U-lojaliteitskaart van Edgars is ook na Retailability oorgedra.

Volgens hom gaan die onderneming voort met die lojaliteitskema en die aanspreeklikheid is oorgeneem om gestand te doen aan die punte wat klante gehad het.

“Ons is besig om dit by ons betaalpuntstelsel op te stel sodat klante toegang tot die punte kan kry.”

Volgens hom behoort dit teen die einde van die maand reg te wees en klante sal kan sien hoeveel punte hul het.

Vrae oor voorraad

Klante het ook gekla oor die beskikbaarheid van voorraad in sekere winkels.

Op die vraag of Edgars se voorraad gereed sal wees vir Swart Vrydag en Kersfees, sê Drieselmann “die voorraadbestuurspan werk baie hard met verskaffer om seker te maak die voorraad kom so vinnig moontlik in”. “Ek dink ons het reeds goeie vordering gemaak om ’n vloei van voorraad in winkels te kry. Ons glo ons sal teen Swart Vrydag goeie promosies vir klante in die winkels hê.”

Volgens hom is die plan om die promosies vir Swart Vrydag binne winkels en aanlyn aan te bied.

Of klante nog dieselfde handelsmerke op winkelrakke sal sien, sê hy: “Ek dink daar sal ’n evolusie van die verskeidenheid wees namate ons ’n beter begrip kry van waarvoor klante soek. Dit moet ’n evolusie wees wat ons nader aan die mark neem om groei te bewerkstellig en weer markaandeel op te bou.”

Edgars is ’n afdelingswinkel wat ook ander handelsname as sy eie verkoop.

“Daar sal steeds internasionale handelsname in Edgars wees,” sê Drieselmann.

Winkels wat gesluit het

Of die winkels wat gesluit het, moontlik weer sal open, sê hy dit was verliesmakende winkels wat gesluit het. “Ons het dit vir geen ander rede gesluit as dat dit nie volhoubaar was nie. Ons doel met die Edgars-transaksie was om seker te maak dat die onderneming op lang termyn volhoubaar is van dag een af.”

“Ek sê nie ons sal ooit weer na sekere persele kyk nie, maar die huur en die sakemodelle moet volhoubaar wees.”

   

Talle klagtes stroom in oor rekeninge

Edgars se besluit om rekeninge te beëindig waarop mense ses maande rentevry kon koop, het geweldig baie klagtes uitgelok, soveel so dat dié besluit omgekeer is.

Drieselmann verduidelik dit was ’n gesamentlike besluit tussen hulle en RCS.

“Wat Edcon in die verlede kon doen, is om die rekeninge deur sy produkverkope te finansier. Noudat dit geskei is, is dit nie so maklik om te doen nie omdat RCS net die kredietboek het en nie die verkope ook nie.

“Ons het egter as onderneming besluit dit is duidelik ’n produk wat na aan klante se hart is en ons wil voortgaan daarmee.”

Op Facebook word klante met klagtes oor hul rekeninge na RCS verwys. RCS kan op 0860 111 826 gekontak word of navrae kan na edgarsenquiries@rcsgroup.co.za gestuur word.

Meer oor:  Retailability  |  Edcon  |  Edgars  |  Norman Drieselmann  |  Klagtes  |  Winkel  |  Klerewinkel  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.