Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
EFF dryf glo onrus wat 200 hul werk kos

’n Vervoermaatskappy in Henley on Klip wat meer as 150 vragmotors besit, het die afgelope week sy deure gesluit nadat stakende werkers miljoene rande se skade aangerig het. Tot 200 mense het hul werk verloor.

Bob Kazmierczak, eienaar van Bogdans Dry Bulk Transport, stap tussen sy vragmotors deur. Die vloot van meer as 150 voertuie staan stil ná die onderneming gesluit is weens geweldpleging. Foto: Deon Raath

Bob Kazmierczak, die eienaar van Bogdans Dry Bulk Transport, sê die onderneming is op sy knieë gedwing deur betogers wat sy vragmotors en sy reputasie as ’n betroubare karweier vernietig het.

Volgens die werkers het die EFF saam met hulle “gemobiliseer”, maar die EFF se leiers ontken nou dat die party amptelik betrokke was.

Kazmierczak het uit kommunistiese Pole na Suid-Afrika geïmmigreer en in 1990 die onderneming met niks begin nie.

Sy moeilikheid het gekom van die ongeregistreerde Sancatdra-vakbond wat saam met die EFF geëis het om die bestuur van die maatskappy oor te neem, sê hy.

Hulle het glo gesê hulle wil geen wit persoon langer daar in diens sien nie. Een van sy vragmotors is aan die brand gesteek en ’n ander is vernietig toe dit met klippe bestook is. Van sy kliënte is ook geteiken. Die skade beloop miljoene rande.

Die maatskappy is veral bedrywig met die vervoer van grootmaat-sement. Kazmierczak sê minstens vier ander karweiers in dié bedryf het ook deurgeloop.

Hy waarsku dat dié tendens die land se konstruksiebedryf tot stilstand kan dwing juis noudat die regering hoop dat dié bedryf kan help om die tam ekonomie weer aan die gang te kry.

Jan Venter, Bogdans se bestuurder vir arbeidsverhoudinge, sê die maatskappy voldoen aan al die vereistes van die bedryf se bedingingsraad en Sancatdra is nie as vakbond geregistreer nie.

Hy sê Kazmierczak is verpletter oor die manier waarop die onderneming, wat hy oor 30 jaar opgebou het, vernietig is.

Daniel Mofokeng, president van Sancatdra, het egter Vrydag aan Rapport gesê van die vakbondlede het by die EFF se arbeidsafdeling gaan kla, waarna dié “gemobiliseer” het.

Die EFF se sekretaris-generaal, Marshall Dlamini, het egter in ’n brief aan Bogdans wat Rapport gesien het, ontken dat die party agter die intimidasie sit. Die partyleier, Julius Malema, het glo ook persoonlik vir Venter geskakel om die party daarvan te distansieer.

“Net omdat mense in ons drag bymekaarkom en plakkate dra met ons naam, beteken nie noodwendig dat hulle ons lede is of optree met ons instruksies of mandaat nie,” sê Dlamini in sy brief.

“As organisasie aanvaar ons geen verantwoordelikheid en aanspreeklikheid vir wat gebeur het of kan/gaan gebeur nie, want dit is nie ons program nie.”

Volgens Mofokeng het die hele kwessie begin toe werkers ontevrede was oor hul vergoeding vir werk op die vakansiedag in September.

Hy ontken dat sy lede betrokke was by die afbrand van die vragmotor. Dit was volgens hom weens ’n elektriese fout.

Mofokeng beskuldig die polisie, wat in ’n stadium met rubberkoeëls op werkers gevuur het, van samespanning met die werkgewer.

“Hulle kies kant teen ons”, sê hy.

Hy het aan Rapport erken dat Sancatdra nie geregistreer is nie, maar sê dít kan eers gebeur nadat hy genoeg lede gewerf het.

Bogdans sê hy het op 14 Oktober ’n interdik teen die stakers gekry en daarna die vragmotorbestuurders afgedank, maar Mofokeng ontken dat die werkers enige kennis gekry het dat hul diens beëindig is. Hulle daag glo nog elke dag op om te wys hulle is bereid om te werk.

“Ons vergader Maandag met ons regspan en sal daarna besluit hoe verder.”

Die private ondersoeker Mike Bolhuis, wat sekerheidsdienste aan Bogdans verskaf, sê die gebeure spruit uit misdadigheid, eerder as ware arbeidsgeskille. Hy sê dié soort probleme versprei tans soos ’n veldbrand in die vervoerbedryf en die ondernemings moet hul bestuurders beskerm. “Hulle is nie noodwendig betrokke nie.”

Die ekonoom Mike Schüssler sê dit is tragies dat die regering nie optree om erkende vakbonde en werkgewers wat aan die bedingingsraad behoort te beskerm nie. “As vakbonde wat nie geregistreer is nie, kan doen wat hulle wil, ondermyn dit die hele bedingingstelsel,” sê hy.

Schüssler sê die ekonomie kan allermins bekostig dat maatskappye sluit weens misdadigheid en dat werksgeleenthede daarmee verlore gaan.

Meer oor:  Eff  |  Onrus  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.