Kapenaars kry eersdaags ’n nuwe soort afdelingswinkel – ’n soort “basaar” waar 240 plaaslike handelaars saam met van die wêreld se top-handelsmerke winkelruimte onder een dak huur.

Só kan die nuwe EGG-winkel in Cavendish Square lyk.
Dié afdelingswinkel, ofte wel “EGG”, sal meer as 3 000 m2 vloerruimte in die Cavendish Square-winkelsentrum beslaan wat voorheen deur Edgars gebruik is.
Die EGG-idee is dié van Paul Simon, stigter en voormalige uitvoerende hoof van Young Designers Emporium (YDE) en Arie Fabian, wat die Fabiani-handelsmerk gevestig het. Dié twee bedryf EGG in ’n 50-50-vennootskap met Old Mutual Properties.
Normaalweg word opkomende kleinsakeondernemings (KMO’s) in ruimtes buite die hoofsentra gevestig, soos die Red Shed by die Kaapse V&A Waterfront, omdat hulle nie huurruimte in die groot winkelsentrums kan bekostig nie. EGG wil dié neiging op sy kop keer deurdat opkomende KMO’s hulle nie hoef vas te teken in ’n huurkontrak van etlike jare nie en ook nie ’n groot deposito hoef te betaal nie.
“Ons wou die kleinhandelsfeer meer toeganklik maak,” sê Simon. Die risiko is ook aansienlik kleiner vir opkomende KMO’s wat ruimte by EGG sal huur, want EGG behartig al die operasionele funksies namens die winkeleienaars soos die aanstel van winkelpersoneel, die inrig van die winkel, die ontwerp van ’n aanlyn platform en die verpakking en versending van produkte en selfs die bedryf en bemanning van betaalpunte.
EGG verskaf dus aan KMO’s ’n “omni-kanaalplatform” waar hulle ’n fisieke en ’n aanlyn winkel kan bedryf.
Winkels sal ruimtes van verskillende groottes kan huur (nie groter as 30 m2 nie). Die huurkontrak kan onbepaald voortduur, maar albei partye kan dit ook met ’n maand se kennisgewing kanselleer.

Paul Simon van YDE. Hy is ook die baasbrein agter die EGG-konsep.
Simon sê Covid-19 was vernietigend vir baie eenmansake en vir opkomende KMO’s wat alleenstaande winkels bedryf het. “Ek het YDE destyds oopgemaak in ’n soort deurgang op Groentemarkplein (in die Kaapse middestad). My omset het verdriedubbel toe ek na ’n winkelsentrum verskuif het. Met EGG wil ons hierdie KMO’s help om met prominente staanplek ’n gelyke kans op sukses te hê.”
Simon stem nie saam met die opvatting dat aanlyn inkopies fisieke winkels “kannibaliseer” nie.
“Dis nonsens. Net ’n lui handelaar redeneer só.”
Hy hou Yuppiechef in Suid-Afrika en Amazon in die VSA voor as voorbeelde van winkels wat ’n aanlyn en ’n fisieke platform hoogs suksesvol bedryf.
“Navorsing toon dat winkels wat op albei platforms sake doen ’n 25%-toename in hul e-handel ervaar het, want klante wil ’n fisieke kontakpunt in hul inkopie-ervaring hê.”
EGG sal fyn ingestel wees op die behoeftes van jong mense. ’n Mens sal van vroeg volgende jaar die EGG-app kan aflaai waarmee jy by EGG jou selfoon kan “wys en betaal” en ook produkinligting bekom. Met die app sal ’n mens ook byvoorbeeld van die huis iets kan koop en dit by ’n “klik en afhaal”-toonbank gaan kry.
EGG sal ’n verskeidenheid handelaars onder een dak huisves – van gesondheidswinkels, skoonheid, klere, tekkies en slenterdrag (athleisure) en huisware tot ’n eet-ruimte met handelsname soos Scheckters Raw en Sushi Box en burgers van Frankie Fenner. Daar sal ook ’n kroeg wees wat uitsluitlik alkoholvrye drankies bedien.
Die Kaapse EGG beoog om sy deure reeds op 26 November oop te maak – ’n dag voor Swart Vrydag. Nog EGG-afdelingswinkels sal na verwagting binne die volgende 36 maande die lig sien in The Zone @ Rosebank en die Bedford-sentrum in Johannesburg en in Durban se Gateway-winkelsentrum.