Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Eienaar van Mykonos, Montecasino verwag swak syfers
Die Montecasino hotel- en casino-kompleks in Fourways, Johannesburg, behoort aan Tsogo Sun.

Tsogo Sun Gaming swyg nog oor die impak van die Covid-19-krisis op sy bedrywighede, maar het ’n moeilike boekjaar agter die rug.

Die dobbelfirma, wat onder meer die casino’s Gold Reef City, Montecasino, Mykonos, Garden Route en Caledon besit, verwag dat sy inkomste basies onveranderd gaan bly of hoogstens met 2% gaan styg in die boekjaar tot einde Maart. Dis teenoor verlede jaar, toe die groep ’n inkomste van R11,6 miljard verdien het uit sy casino’s.

Die casino’s word nou weergegee as sy voortgesette bedrywighede nadat Tsogo Sun Hotels in Junie verlede jaar uit die Tsogo-groep ontknoop en afsonderlik genoteer is. Tsogo Sun Hotels het Donderdag ’n handelsverklaring oor sy jaarsyfers uitgereik en het dit gebruik om by die regering te pleit dat hy weer hotelle mag oopmaak.

LEES OOK: Hotelgroep smeek dat regering ekonomie oopstel

Tsogo Sun Gaming reik sy resultate na verwagting op 29 Mei uit. Dié groep se nuwe boekjaar sou ook met ’n algehele stilstand van bedrywighede begin het, aangesien casino’s hul deure met die inperking, wat op 27 Maart begin het, moes sluit. In dié stadium lyk dit nie of casino’s hul deure voor vlak 1 van die inperking sal mag oopmaak nie.

Tsogo se mededinger Sun International het onlangs twee casino’s, Naledi en Carousel, finaal gesluit. Hoewel die twee casino’s reeds voor die inperking gesukkel het, sê Sun die inperking beteken hy kan doodeenvoudig nie meer dié twee casino’s finansieel dra nie.

Phumelela Gaming, wat spesialiseer in dobbel op perdewedrenne, is onlangs in sakeredding geplaas en sy uitvoerende hoof, John Stuart, het bedank.

Tsogo Sun Gaming se verwagte syfers

Vir voortgesette bedrywighede gaan sy inkomste onveranderd wees of met hoogstens 2% styg teenoor verlede jaar, toe die groep ’n inkomste van R11,6 miljard verdien het.

Die groep se verdienste per aandeel uit voortgesette bedrywighede gaan met tussen 115% en 125% val en kernwesensverdienste per aandeel gaan met tussen 20% en 24% daal. Aangepaste kernwesensverdienste per aandeel, wat die maatskappy as een van die belangrikste maatstawwe van sy syfers beskou, gaan met tussen 13% en 15% daal.

Vir die hele groep, wat nog ’n deel van die inkomste uit Tsogo Sun Hotels insluit, gaan wesensverdienste per aandeel met tussen 80% en 90% daal, kernwesensverdienste per aandeel met tussen 30% en 35%, en aangepaste kernwesensverdienste per aandeel met tussen 23% en 27%.

Die verdienste vir voortgesette bedrywighede word so hard geslaan, omdat dit enorme afskrywings van ontasbare bates (R1,9 miljard), eiendom (R105 miljoen) en billikewaarde-verliese op beleggingseiendom (R81 miljoen) insluit, asook bykomende rente vir skuld wat die groep moes aangaan om Tsogo Sun Hotels te ontknoop.

Die groep se aandeelprys het vroegoggend met byna 5,7% tot R1,82 gedaal nadat die handelsverklaring uitgereik is.

Meer oor:  Tsogo Sun Gaming  |  Dobbelbedryf  |  Casino  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.