Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Eina! Hare verwyder is vroue se 1ste keuse by Sorbet

As jy die geld en tyd gehad het, wat was die eerste behandeling wat jy by ’n skoonheidsalon bespreek het?

Die skoonheids-franchise Sorbet het in April groot verliese gely weens die inperking.

Volgens die Sorbet-groep is mans se eerste behoefte aan ’n professionele haarsny. Vroue – wat nie hul hare by Sorbet-salonne kan laat doen nie – bespreek heel eerste ’n haarverwydering met was of ’n gesigsbehandeling.

Dit was die gewildste behandelings in die eerste week waarin Sorbet se salonne kon sake doen, sê Linda Sinclair, die groep se uitvoerende hoof, in antwoord op Netwerk24 se vrae. Haar- en skoonheidsalonne kon van 19 Junie hul deure oopmaak nadat die regulasies vir vlak 3 van die inperking verslap is.

Sorbet-takke het egter eers op 23 Junie hul deure geopen.

Sinclair sê salonne was “redelik besig” die afgelope paar dae, selfs in ag genome dat hulle baie streng sosiale distansiëring handhaaf. Dit beteken die aantal skoonheidsterapeute en klante wat gelyktydig in ’n salon is, word streng beheer en is nagenoeg die helfte van wat voor die Covid-19-pandemie moontlik was.

Sinclair sê besprekings vir behandelings voldoen aan hul verwagtinge. Mense word sterk aangemoedig om vooraf te bespreek.

Sy sê dis baie bemoedigend dat kliënte tevrede is met die bykomende streng higiëneprotokolle wat in werking gestel is sodat hulle hul behandelings in ’n veilige omgewing kan geniet. Mense is ook baie geduldig en daag betyds op vir die ekstra tyd wat nodig is om hul koors te meet, hul hande te ontsmet en te registreer.

Sinclair sê hulle ervaar dat gereelde kliënte terugkom, maar hulle sien ook baie nuwe kliënte wat dalk ietwat veiliger voel in ’n formele salon-omgewing waar streng higiëneprotokolle gewaarborg is.

Sinclair sê die skoonheidsbedryf het reeds vóór die Covid-19-pandemie streng higiëne gehandhaaf, maar het meer as 20 bykomende maatreëls in werking gestel om die veiligheid van kliënte en werknemers te verseker.

Sy sê werknemers ervaar enorme verligting dat hulle ná byna drie maande weer kan terugkeer werk toe. Die meerderheid Sorbet-takke word besit en bestuur deur individuele vroue, en baie van hulle is die enigste broodwinner in hul gesin. Hulle het byna 3 500 vaardige werknemers in hul diens, van skoonheidsterapeute, naeltegnici en haarstiliste tot barbiers. Sorbet besit ook die salonne Candi & Co, wat haarstilering vir swart vroue aanbied.

Onder die maatreëls wat geld, is:

  • Elke tak word omvattend skoongemaak voor elke dag se opening.
  • Alle werknemers word opgelei oor bykomende higiëneprotokolle – hulle moes ’n eksamen slaag voordat hulle kon terugkeer werk toe.
  • Alle tydskrifte word verwyder en drinkgoed word nie meer bedien nie.
  • Alle werknemers en kliënte moet met hul aankoms ’n register invul wat die vereiste siftingsvrae insluit. Kliënte moet ook wanneer hulle ’n afspraak maak die vrae beantwoord.
  • ’n Skofstelsel word ingestel om die getal werknemers wat op ’n keer werk te verminder.
  • Werknemers trek hul werkklere eers aan wanneer hulle by die salon kom.
  • Terapeute dra die heeltyd ’n masker, beskermende skerms en handskoene.
  • Terapeute was en ontsmet hul hande gereeld, ook tussen elke behandeling.
  • Alle werkstasies word aan die begin van elke werkdag ontsmet, asook tussen elke behandeling en tussen elke kliënt.
  • Alle toerusting word deeglik skoongemaak en ontsmet tussen behandelings.
  • Die getal kliënte in ’n salon word beperk.
  • Werkstasies wat in gebruik is, is minstens 1,5 m tot 2 m van mekaar af.
  • Plastiekskerms word tussen kliënte geplaas, asook tussen terapeute en hul kliënte.
Meer oor:  Sorbet  |  Vlak 3  |  Skoonheidsbedryf  |  Staat Van Inperking  |  Skoonheidsalonne  |  Salonne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.