Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Einde van era vir Comair

Die einde van ’n era breek Woensdag aan wanneer die private lugdiensgroep Comair amptelik van die JSE gedenoteer word.

Comair, wat kulula.com en British Airways in Suid-Afrika bedryf, is sedert Mei 2020 in sakeredding en sy notering op die JSE eindig Woensdag.

Comair se sakereddingspraktisyns het verlede week aangekondig die maatskappy se notering op die JSE eindig Woensdag, en alle aandeelhouers sal daarna voortgaan as aandeelhouers in die ongenoteerde maatskappy.

’n Aanbod van 4,26c per aandeel sal binnekort aan minderheidsaandeelhouers gebied word ingevolge die sakereddingsplan. Dit is ver onder die R1 per aandeel waarteen Comair verhandel het toe die verhandeling van sy aandele in Mei 2020 opgeskort is.

Die sakereddingspraktisyns het ook aangekondig dat toekomstige aankondigings oor Comair voortaan in die media gedoen sal word en ook aan aandeelhouers gepos sal word, soos voorgeskryf deur die Maatskappyewet. Dit is omdat die JSE se Sens-nuusdiens dan nie meer Comair beskore is as hy eers gedenoteer is nie.

Die Covid-19-pandemie se reisbeperkings was verlede jaar ’n te groot slag vir die lugdiensgroep en hy het in Mei verlede jaar ’n vrywillige sakeredding aangekondig. ’n Konsortium van vorige direkteure en beleggers wil die lugdiensgroep oorneem en het in Desember vlugte hervat.

Comair is in 1946 gestig en kon tot 2019 daarmee spog dat hy vir 73 ononderbroke jare ’n bedryfswins kon behaal, ondanks die soms kwaai mededinging van die staatsbeheerde Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), en selfs te midde van onmededingende gedrag waarvoor die SAL al deur die mededingingsowerhede beboet is. Die SAL kan juis weens sy eie geldtekort nie meer die volle skikkingsbedrag aan Comair betaal waaroor die appèlhof in Februarie 2019 ’n uitspraak gelewer het nie. Hiervolgens moes die SAL R1,1 miljard aan Comair betaal weens sy magsmisbruik in die binnelandse mark. Comair het net ’n paar betalings hiervan ontvang totdat die SAL ophou betaal het, en Comair moes die uitstaande bedrag van R790 miljoen wat die SAL hom skuld, afskryf. Dit het bygedra tot sy finansiële probleme.

Die sakereddingspraktisyns het in Maart aangekondig die sakereddingsplan word gewysig deurdat bestellings vir nuwe vliegtuie gekanselleer is om geld te bespaar.

Comair bedryf die laekostelugdiens kulula.com, asook ’n plaaslike franchise van British Airways vir binnelandse vlugte.

Meer oor:  Comair  |  Lugdienste  |  Sakeredding  |  Denotering  |  Lugdiensbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.