Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Eise vir betogings, stakings skiet op tot R1,5 mjd.

Byna R1,2 miljard is die afgelope jaar van Sasria geëis vir skade wat aangerig is tydens betogings oor dienslewering. Nóg R300 miljoen se eise is uitbetaal vir skade tydens arbeidsverwante stakings en betogings.

Brandbestryders probeer brande in winkels in die Pretoriase middestad blus tydens gewelddadige betogings. Foto: Argief

Dit beteken ’n rekordbedrag van R1,2 miljard is van Sasria geëis – meer as dubbeld (138%) die vorige jaar se eise van R662 miljoen.

Sasria het dié skoksyfers bekend gemaak in sy jaarsyfers vir die boekjaar tot einde Maart 2019.

Dié staatsonderneming, waarvan die volledige naam die Suid-Afrikaanse Spesiale Risikoversekeringsvereniging is, is korttermynversekeraars wat slegs dekking bied teen skade wat met onrus, betogings en terreur veroorsaak word. Die meeste korttermynversekeraars sluit Sasria-dekking in by motorversekeringspolisse.

Sasria se premies het met 8,8% tot R2,1 miljard gestyg.

Die staatsonderneming het ’n netto verlies van R73 miljoen gely.

Die afgelope vyf jaar het Sasria meer as 16 000 eise ter waarde van R4,6 miljard ontvang.

Die onderneming bestuur bates ter waarde van R8,4 miljard, wat beteken hy sal huidige en toekomstige eise kan uitbetaal, luidens ’n verklaring.

Dis 2,7 keer meer as die kapitaal wat die Omsigtigheidsowerheid vereis dat Sasria moet hou.

Sasria het ’n skoon oudit van die ouditeur-generaal gekry – vir die sewende opeenvolgende jaar.

Sasria is tydens die betogings en burgerlike onrus tydens apartheid geskep toe versekeraars nie meer vergoeding aan ondernemings wou uitbetaal vir politieke betogings nie. Die versekeraar is vanjaar 40 jaar oud.

Tito Mboweni, minister van finansies, loof Sasria vir sy “konsekwente goeie finansiële resultate”: “Dit het nie die fiskus belas nie, en het eerder ’n waardevolle bydrae tot maatskaplik-ekonomiese inisiatiewe, belasting en dividende aan die aandeelhouer (die regering) gemaak.”

Onlangs is berig al die nie-uitvoerende direkteure van Sasria het bedank. Geen redes is verskaf nie.

Meer oor:  Sasria  |  Stakings  |  Betogings  |  Korttermynversekering  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.