Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Ek leef van dag tot dag’ – Jooste se skoonseun
Links is Stefan Potgieter, Markus Jooste se skoonseun, wat tans die enigste direkteur van Mayfair is, en Derek Brugman, Mayfair Speculators se perdebestuurder, in 2016 by die Durban July. Die perd The Conglomerate het dié wedren gewen. Dit het aan Markus en Ingrid Jooste behoort. Dié foto was onder foto’s wat Vodacom aan die media beskikbaar gestel het.

“Ek leef tans van dag tot dag en probeer sterk staan in ’n rowwe situasie.”

Só beskryf Stefan Potgieter, Markus Jooste se skoonseun, sy gemoedstoestand op Oujaarsdag 2017 in ’n e-pos aan een van die minderheidsaandeelhouers van die maatskappy Lodestone.

Die e-pos is geskryf net meer as twee weke nadat hy in die media gelees het hoe Absa hom en sy skoonpa van “naakte bedrog” beskuldig in ’n hofaansoek om die Mayfair-maatskappye te laat likwideer.

Potgieter is sedert 7 Desember die enigste direkteur van die Mayfair-maatskappye wat deur ’n familietrust van die Jooste-familie besit word. Hy is van 2010 ’n direkteur van Mayfair.

Net soos Jooste, reageer hy ook nie die afgelope paar maande op medianavrae nie.

Lees hierdie twee berigte oor die Absa-hofsaak:

Markus Jooste pleeg naakte bedrog

Steinhoff vrae oor lening dae voor skandaal

Potgieter het op 31 Desember ’n e-pos aan minderheidsaandeelhouers van Lodestone gestuur waarin hy hulle verwittig dat Mayfair Holdings sy belang in Lodestone aan Absa, Investec en Sanlam gesedeer het as waarborg vir die byna R1 miljard se lenings wat by hulle gekry is.

Hierdie e-pos is ’n aanhangsel in ’n hofaansoek wat minderhede van Lodestone aanhangig gemaak het om Mayfair te keer om sy belang in Lodestone op ’n veiling te verkoop.

Die e-pos wat Potgieter aan een van die minderheidsaandeelhouers van die maatskappy Lodestone gestuur het.

Hy skets in sy beantwoordende eedsverklaring die gebeure by Steinhoff in Desember en die impak wat die skerp val in die maatskappy se aandeelprys op Mayfair Speculators gehad het.

Lees ook: EKSKLUSIEF: Jooste ‘dreig’ sakevriend met WhatsApp

Volgens Potgieter was een van Speculators se hoofbates die aandele wat die maatskappy regstreeks en onregstreeks in Steinhoff gehou het. Die aandele is aan die banke en Sanlam as sekuriteit vir die lenings aangebied.

Mayfair Holdings het op 22 Desember weens die aansoek om likwidasie sy aandele in die maatskappy Second Chapter Investments (SCI), waardeur hy sy belang in Lodestone hou, aan Speculators se leners gesedeer.

Aan ene Johan van Zyl, een van die minderheidsaandeelhouers van Lodestone, skryf hy meer persoonlik (sien meegaande uittreksels uit die e-pos): “Ek het ook nog nie my ma gesien sedert die hele storie nie en die banke ruk my rond soos ’n stuk vleis tussen honger honde.”

Hy gaan voort: “Ek het tyd gekoop met die banke deur ons Lodestone exposure – direk en indirek te pledge as sekuriteit.”

Die e-pos eindig “kan nie glo ons drome word so verskeur nie” – waarskynlik met verwysing na die planne wat hulle vir Lodestone gehad het.

Lodestone het in 2014 die lekkergoedmaker Mister Sweet, die vervaardiger van babadoeke National Pride en die koeldrankmaker Dynamic Brands bekom.

Ek het ook nog nie my ma gesien sedert die hele storie nie en die banke ruk my rond soos ’n stuk vleis tussen honger honde.
Stefan Potgieter

In die hofstukke verwys die applikante na die gebeure by Steinhoff wat tot Jooste se opspraakwekkende bedanking as uitvoerende hoof gelei het.

Hulle spreek kommer uit oor die dividend in specie wat Mayfair Speculators op 7 Augustus en 13 Oktober aan Mayfair Holdings verklaar het, wat sy aandeelhouding in Lodestone ingesluit het.

Absa het in Desember in sy hofaansoek na dié dividend in specie van R1,5 miljard verwys toe Jooste van “blatante bedrog” beskuldig is. Absa het aangevoer hy moes van die probleme by Steinhoff geweet het.

“Deur ’n dividend in specie te verklaar aan Mayfair Holdings, het Speculators effektief van bates van R1,5 miljard ontslae geraak toe Jooste ’n direkteur was,” sê Greg Senior, een van die applikante in die Lodestone-hofaansoek, in sy eedsverklaring.

“Dit is oorweldigend waarskynlik dat Jooste en Potgieter bewus was van die finansiële ongerymdhede by Steinhoff en dat dit in die afsienbare toekoms onthul sou word. “Jooste en Potgieter het geweet as die feite aan die lig kom, sal Steinhoff se aandeelprys ineenstort, die lenings van die banke sal betaalbaar word en Mayfair Speculators sal nie genoeg likiditeit hê om die skuld te betaal nie.”

Potgieter reageer vir die eerste keer op dié aantygings.

“Ek ontken enige misdryf is begaan met die verklaring van die dividend in specie.

“Holdings het daarna die skuld aan Speculators se leners gewaarborg. Die oordrag het nie die instellings benadeel nie.

“Ek bevestig verder ek het geen kennis gehad van enige onreëlmatighede intern by Steinhoff in Augustus 2017 nie.”

So ontken Stefan Potgieter in hofstukke enige misdryf.

Volgens Potgieter is die dividend in specie ter wille van die voortgesette herstrukturering van die groep gedoen.

Die besluit om dié dividend te verklaar, was die uiteinde van drie jaar se onderhandelinge oor herstrukturering.

Hy beskryf Mayfair Speculators as ’n beleggingsbeheermaatskappy met bedrywighede in perdetelery en -wedrenne.

Die Lodestone-minderhede het hul hofaansoek middel Maart aanhangig gemaak. Hulle wag tans op ’n hofdatum.

Die twee Mayfair-maatskappye se skuldeisers het einde Maart ’n reëlingskema wat aan hulle voorgelê is om die skuld terug te betaal, goedgekeur. Dit is middel April deur die hof goedgekeur.

So het Netwerk24 oor dié plan berig: 500 perde, R2,3 mjd. se bates moet Jooste-skuld delg

Meer oor:  Steinhoff  |  Lodestone  |  Absa  |  Mayfair  |  Stefan Potgieter  |  Markus Jooste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.