Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Ek onthou die vrees in Bosasa-mense se oë’

In Februarie 2017 het ’n uitvoerende hoof my gevra of ek iemand wat saam met hom lid van ’n sportmotorklub was, raad kan gee oor die onderhandelinge met sy werkgewer oor ’n skeidingspakket. Ek is gewaarsku dat dit ’n baie sensitiewe saak is.

Gideon du Plessis

Omdat die uitvoerende hoof Solidariteit goedgesind was, het ek ingestem om sy vriend te ontmoet.

Die ontmoeting is gereël en só stap Angelo Agrizzi, Bosasa se voormalige bedryfshoof, by my kantoor in. Hy was toe in onderhandelinge gewikkel met Gavin Watson, voormalige uitvoerende hoof van Bosasa wat Maandag dood is.

Agrizzi het verduidelik dat hy by die dood omgedraai het weens ’n ernstige siekte en dat hy nou die regte ding moet doen. Hy het hom toe sterk uitgespreek oor “ ’n web van korrupsie” by Bosasa.

Agrizzi se versoek was dat ek die skikkingsooreenkoms wat hy van Watson ontvang het, moet bestudeer, maar die skikkingsbedrag moes ignoreer.

Dit was ’n taamlike standaard­ooreenkoms, maar die skikkingsbedrag was allesbehalwe standaard. My aanbeveling was dat hy, in die lig van die uitsonderlike skikkingsbedrag, die aanbod met enkele wysigings aan die ooreenkoms moet aanvaar. Agrizzi het aangedui dat hy verder met Watson oor die bedrag sou onderhandel.

Om groter duidelikheid te gee oor die “korrupsieweb”, haal Agrizzi toe bankstate uit waarop groot uitbetalings verskyn en met elke syfer wat hy omkring, noem hy die naam van ’n prominente politikus of senior staatsamptenaar.

Ek het net my hande in die lug gegooi en aangedui dat dit nie meer ’n arbeidsverhoudinge-kwessie is nie. Ek het gesê ek wil nie daarby betrek word nie, maar dat hy die regte ding moet doen.

Agrizzi het begrip daarvoor gehad, maar gevra dat Solidariteit wel sy afdeling se werknemers, van wie die meeste Solidariteit-lede was, sou bystaan omdat elkeen ’n afleggingsbrief ontvang het.

Die eerste konsultasie met die groep Bosasa-werknemers moes in groot geheimhouding plaasvind en almal was ontsteld en beangs oor die situasie waarin hulle hul bevind het. Hulle het mekaar doodgepraat in hul poging om my te vertel van die beweerde ongerymdhede by Bosasa. Hulle het aangevoer dat hulle afgelê gaan word bloot omdat hulle vir Agrizzi gewerk het.

Bosasa was ’n komplekse samestelling van maatskappye en die meeste wit werknemers was in diens van ’n aparte maatskappy sodat die beheermaatskappy se swartbemagtigingsyfers beter lyk.

’n Video van ’n maatskappy-leiersberaad is ook aan my gewys. Daarin vertel Watson aan die wit werknemers dat hulle uitgedien – “defunct” – is en geen bemagtigingswaarde vir die maatskappy het nie. Hy het bygevoeg dat dit nie sakesin sou maak om enigsins verder geld aan hul opleiding te bestee nie en dat hulle nou op hul eie is.

Watson is dood en daar is nou meer vrae, maar een ding waaroor daar geen twyfel is nie, was die vrees in die oë van die Bosasa-werknemers.

Op grond van die werknemers se terugvoering was ons opsies om óf ’n interdik teen die onregmatige afleggings te verkry óf om ruim skeidingspakkette te beding. Die hele groep het skeidingspakkette verkies en ’n lys begin maak van alles wat daarin vervat moes word.

My reaksie was dat hul eise ekstreem was en dat hulle realisties moet word omdat ek nie bewus was van werkgewers wat ooit sulke ruim pakkette uitbetaal het nie. ’n Vakbond is egter ’n ledegedrewe organisasie en so moes ek hul pakket-eis aan die werkgewer oordra.

Van die Watson-familielede was in die maatskappy se onderhandelingspan en toe ek ons lede se eise op die tafel plaas, het die maatskappy soos ek daarop gereageer. Ek is gevra om tog net aan te dui hoe ons lede sulke oordadige pakkette kon regverdig.

My enigste antwoord was dat van hulle aangedui het “as hulle begin praat, sal hulle die plek toemaak”. ’n Oproep is vinnig na Gavin Watson gemaak en die pakkette is goedgekeur.

Twee jaar later het Agrizzi “oor die web van korrupsie” voor die Zondo-kommissie getuienis gelewer, maar daar is steeds onduidelikhede. Watson is dood en daar is nou meer vrae, maar een ding waaroor daar geen twyfel is nie, was die vrees in die oë van die Bosasa-werknemers, wat net daar wou uitkom.

  • Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.
Meer oor:  Bosasa  |  Gavin Watson  |  Angelo Agrizzi  |  Korrupsie  |  Staatskaping  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.